Die staat se voorstel dat die beleid oor die invoer van gespletehoefdiere van lande sonder bek-en-klouseer-vrye status verander moet word, is “polities gedrewe en dit fokus nie op ekonomiese belang nie”, sê mnr. Dave Ford, die voorsitter van die Rooivleisbedryfsforum.
Dit volg nadat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op 22 Maart 2011 ’n kennisgewing, waarvolgens hy kommentaar oor die voorstel vra, in die Staatskoerant gepubliseer het.
Ford sê so ’n stap sal daartoe lei dat ander siektes ook die land binnekom, terwyl klimaatsverandering reeds veranderinge in die voorkoms van siektes veroorsaak.
“Ons sien reeds die baie vog veroorsaak dat meer siektes voorkom én die intervalle tussen uitbrekings word al hoe kleiner. Ander Afrika-lande gaan weens dieselfde rede ook meer siektes kry. Die bedryf kan nie nóg meer blootgestel word deur onnodige bedreigings die land te laat inkom nie!”
Lees hier meer oor dié voorstel.
Swartwitpens-sage en Malema
Ford sê hy meen minister Tina Joemat-Pettersson wil dié beleidsverandering gebruik om ’n hofbevel oor die invoer van swartwitpense van Zambië te omseil.
’n Hofbevel, wat op regsaksie deur die forum gevolg het, het verlede jaar bepaal dat die invoer van sowat 150 van dié diere nie mag plaasvind nie, aangesien dit sou beteken dat Suid-Afrika sy bek-en-klouseer-vrye status sou verloor.
Die hofbevel het ook bevind dat ’n protokol vir die invoer van die diere met die samewerking van die bedryf opgestel moes word, maar Ford sê daar het intussen nog niks van dié aard gebeur nie.
“Ek het baie simpatie met die arme diere wat reeds ’n jaar lank onder kwarantyn in ’n boma staan. Ek dink die minister is onder geweldige druk om dié ding deurgevoer te kry. Wat tot dié druk bydra, is dat mnr. Julius Malema (leier van die ANC-jeugliga) glo beeste by die hoof van die Zimbabwiese Reserwebank as geskenk gekry het en ook die diere die land wil inbring.”
Bedryf verloor reeds R36 miljoen
Te midde van die uitbreking van bek-en-klouseer het die rooivleisbedryf reeds R36 miljoen aan inkomste verloor. Ford sê in die afgelope boekjaar het die uitvoer van vleisprodukte en lewende beeste, skape, bokke en varke ’n inkomste van R436 miljoen gegenereer.
Die verbod op die uitvoer van enige gespletehoefdiere, wat weens die uitbreking reeds langer as ’n maand van krag is, het die bedryf reeds R36 miljoen gekos. “Dis die opkomende boere op die platteland wat die swaarste kry. Hulle het nou geen afsetmark vir hul diere nie. Én Namibië se varkvleis is besig om op te droog, want hulle voer ons varke in,” aldus Ford.
Ford sê hy is ook nie seker hoe die Regering die regulering van die nuwe voorstel wil hanteer as hy kyk na die groot gebreke met die hantering van die situasie wat tans voorkom nie. “Daar is 37 vakante staatsveeartsposte in die land . . . ”
4 April 2011