In pogings om die Regering te kry om individuele eienaarskap van grond aan mense in voormalige tuislandgebiede te gee, het die DA ‘n private ledevoorstel by die Parlement ingedien.
Die ongeveer 16 miljoen mense wat in die voormalige tuislande woonagtig is, wag ná meer as 16 jaar steeds dat hulle sekuriteit van verblyf kan geniet.
Me. Lindiwe Mazibuko, die DA se skadu-minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het gesê volle individuele eienaarskap sal verseker dat mense wat op kommunale grond woon, bemagtig sal word om hul lewensomstandighede te verbeter.
“Sonder volle individuele grondbesitregte kan mense wat op kommunale grond woon nie die grond as aanvullende sekuriteit gebruik, dit uitverhuur, gedeeltes daarvan verkoop of die volle voordele van grondeienaarskap geniet nie.”
Bespoedig die wet
Sy het aangedui dat die voorgestelde wetgewing wat die DA by die Parlement se komitee vir private lede-voorstelle en spesiale petisies ingedien het, gedryf word deur die behoefte om die proses te bespoedig om die grond aan dié individue oor te dra.
Wetgewende wysiging is ook nodig veral omdat die Grondwethof die Wet op Kommunale Grondregte (Wet 11 van 2004), ook bekend as CLaRA, verlede jaar ongeldig verklaar het.
Die DA se private lede-voorstel wil hê dat wetgewing opgestel moet word om te verseker dat:
* Alle grond in die voormalige tuislandgebiede opgemeet en in die akteregister geregistreer word.
* Die belastingstelsel wat vir alle munisipaliteite geld, moet ook geld vir kommunale grond.
* Kommunale gebiede moet as munisipaliteite afgebaken word en onderworpe wees aan die Wet op Munisipale Stelsels.
* Daar moet ‘n formele registrasieproses vir individuele titelaktes wees, en grond en geboue moet volgens die riglyne van die Wet op die Registrasie van Aktes geïmplimenteer word.
6 Oktober 2011