
Mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie, sê die riviervloei by Katlani, die eerste meetpunt ná die samevloeiing, het Dinsdag van 600 kubieke meter per sekonde (kumek) tot 2 000 kumek gestyg.
Hy sê die jongste syfers en projeksies van die departement van water en sanitasie wys dat daar hoop is dat die vloei die volgende sowat twee weke dalk onder 4 400 kumek sal bly en dus nie naby 1974 en 1988 se vlakke sal kom nie.
In die 1974-vloed het die riviervloei 7 648 kumek bereik en in 1988 6 996 kumek. In 2011 was die hoogste vlak 4 723 kumek en in Januarie vanjaar 3 700 kumek.
“Die Benede-Oranje se vloei gaan nou vinnig styg tot rondom 2 000 kumek,” het Fourie Woensdag gesê. “Daarna sal dit teen ’n ál stadiger tempo tot 3 000 kumek styg en nog stadiger tot by die verwagte sowat 4 400 kumek. Upington sal die hoogtepunt van die vloei waarskynlik middel tot einde volgende week beleef.”
Die uitlaat uit die Bloemhofdam is Woensdagoggend om 10:00 verhoog vanaf 2 200 kumek tot 2 400 kumek. Die Gariepdam se uitlaat was net bokant 2 000 kumek en die Vanderkloofdam 1 300 kumek. Fourie sê die uitvloei uit laasgenoemde sal na verwagting binne die volgende paar dae ’n hoogtepunt van sowat 1 800 kumek bereik voordat dit begin afneem.
Die Gariepdam was Woensdagoggend 115,9% vol, die Vanderkloofdam 108,4%, die Vaaldam 109,2% en die Bloemhofdam 111,5%.
The mighty #Gariep dam in the late afternoon sun overflowing at 115+%. ??Gustav Botha
— ReenvalSA (@ReenvalSA) November 15, 2022
Crank up the volume on your device. https://t.co/f3h6sQySNs pic.twitter.com/WxkdAUQAZM