
Boere aan die Benede-Oranjerivier kan verwag dat die vlak van die Benede-Oranjerivier deur die Paasnaweek en die week daarna kan bly styg, sê mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie.
Die dag voor die Paasnaweek het syfers oor die vloei van onder meer die Oranje- en Vaalrivier, asook ander riviere wat in die Benede-Oranjerivier inloop, daarop gedui dat die hoogste vloei 2 600-2 800 kubieke meter per sekonde (kumek) kan wees, maar dit was nog ’n baie vroeë raming. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het nóg reën vir verskeie gebiede oor die Paasnaweek voorspel.
Einde Januarie vanjaar het die riviervloei ná die swaar reën in dié maand by sowat 3 800 kumek gedraai.
Fourie sê onder 3 000 kumek ly boere gewoonlik min tot geen strukturele skade nie, maar laer lande se oeste kan benadeel word. Rondom 3 000 kumek is sekere paaie onbegaanbaar en begin water by lande instoot, veral waar vloedwalle nie herstel is nie. Teen 3 500 kumek begin die situasie nóg ernstiger raak en raak die risiko’s vir skade al hoe groter.
Op Donderdagoggend 14 April was die vloei by Katlani 1 850 kumek. Dit is die eerste meetpunt ná die samevloeiing van die Oranje- en Vaalrivier. Vanweë die reën in die opvangsgebiede word verwag dat die vloei by Katlani op Goeie Vrydag 2 100 kumek kan wees. Dit duur sowat drie dae vir die water om van Katlani tot by Upington te vloei.
Die uitlaat uit die Bloemhofdam is op Donderdagmiddag 14 April tot 1 400 kumek verhoog. Die hoogtepunt vir uitvloei uit die Gariepdam is vir Saterdag 16 April verwag, naamlik 1 010 kumek en uit die Vanderkloofdam op Paasmaandag, 18 April, naamlik 910 kumek.
Fourie sê teen dié soort vlakke kos dit water gewoonlik sowat vyf dae om vanaf die Bloemhofdam na Katlani te vloei.
Die watervlak by die Groblershoopbrug was op Woensdagmiddag 13 April 2,9 m en op Donderdagoggend 14 April 3,2 m.
Fourie sê dit is hoogs ongewoon dat die Benede-Oranjerivier teen dié soort vlakke in April vloei. Die hele somer was die vlak ongewoon hoog. Die rivier het op 19 Desember 2021 die eerste keer teen 1 000 kumek gevloei en die vloei was sedertdien net vir twee kort tydperke laer.
“As ’n mens teen ’n gemiddelde vloei van 1 000 kumek ’n eenvoudige som maak, is meer as dubbel die inhoud van die Gariepdam al hierdie seisoen hier by ons verby.”