
Volgens die departement van water en sanitasie se jongste projeksiesyfers vir watervloei in die Benede-Oranjerivier kan dit teen Vrydag 24 Februarie ’n spits van sowat 4 300 kubieke meter per sekonde (kumek) by Prieska bereik.
Mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie, sê dit is laer as die 4 500 kumek wat gister voorspel is. In die 2011-vloede was die hoogtepunt by Prieska 4 723 kumek op 13 Januarie en 4 401 kumek op 1 Februarie.
Fourie sê dit duur sowat ’n dag voordat die riviervloei by Upington ’n soortgelyke vlak as by Prieska bereik.
Met die hoë vloei in November verlede jaar het die metings by verskillende punte verskil. Fourie sê die hoogste vloei by Katlani, die eerste meetpunt ná die samevloeiing van die Oranje- en Vaalrivier, was 3 844 kumek op 22 November, by Prieska was dit 4 039 kumek op 23 November, by Neusberg 3 833 kumek op 24 November en by Blouputs 4 486 kumek op 24 November. Upington se meetpunt was stukkend.
Die departement het tot dusver vandag die getal oop sluise by die Vaaldam op 12 gehou en die uitlaat uit die Bloemhofdam op 3 200 kumek gehou. Volgens vanoggend se syfers was die Vaaldam byna 117% vol en die Bloemhofdam byna 108%. Indien laasgenoemde se uitlaat op 3 200 kumek gehou word, is die verwagting in dié stadium dat die dam teen 26 Februarie 128% vol kan wees.
Mnr. Elias Nel skryf op die Facebookblad SA Reënvalverslag/Voorspellings/Damme volgens die departement se historiese syfers was die hoogste uitlaat op rekord by die Bloemhofdam in 1988, naamlik 5 296,9 kumek op 15 Maart 1988. In 2011 was die hoogste uitlaat vir die jaar 2 858,4 kumek op 7 Januarie.Oeste tot 60% kleiner
Mnr. Jors van der Westhuizen, ’n boer wat wyn- en rosyntjiedruiwe verbou tussen Groblershoop en Grootdrink, sê hulle is baie bekommerd oor voorspellings dat die Benede-Oranjerivier later vandeesweek vloedwatervlakke van 2011 kan bereik. “Daar is plekke waar die vloedwalle wat toe beskadig is, steeds nie herstel is nie.”
Hy sê met die weerstoestande van die afgelope seisoen is van die druiwe-oeste (wyn-, rosyn en tafeldruiwe) in hul distrik op plekke tussen 50 en 60% kleiner. “Die tafeldruiwe hier is klaar geoes, en sowat 80% van die rosyn- en wyndruiwe is ook reeds af, maar daar is nog wel van die boere wat klaar moet oes.
“Ons is regtig bekommerd oor die riviervlakke wat vir vandeesweek voorspel word, veral omdat dit die soveelste keer dié seisoen is dat ons vloedtoestande beleef. Maar ons hou moed, dis mos wat ’n boer doen,” vertel Van der Westhuizen.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.