Die vloedwater bruis tans in die rivier af op pad na die Atlantiese Oseaan en het teen dié tyd waarskynlik reeds sy spits bereik by Douglas en Prieska. Dit sal na verwagting vandag (Woensdag 1 Maart) sy spits by Upington bereik.
In ’n stadium is verwag dat die riviervloei hoër gaan wees as in 2011 se vloed, maar dit lyk nou asof dit effens laer gaan wees, sê mnr. Wilco Fourie, voorsitter van die Oranjerivier-landbou-unie.
Op die plaas van mnr. Jors van der Westhuizen, wat naby Grootdrink boer, het die water met meer as 3,2 m gestyg, maar die noodwalle hou en hulle het darem nie grootskaalse probleme ondervind nie.