
Met die damvlakke op gemiddeld 92,9% lyk die situasie aansienlik beter as die gemiddeld van 82,7% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar, maar daar is steeds weekliks ’n effense afname.
Volgens die departement van water en sanitasie se weeklikse statusverslag was die gemiddelde vandeesweek 92,9% teenoor 93,1% ’n week gelede. Sewe uit nege provinsies het ’n afname in damvlakke ondervind. Dit is die Oos-Kaap van 70,0% tot 69,9%, KwaZulu-Natal van 89,7% tot 89,4%, die Vrystaat van 100,7% tot 100,3%, Noordwes van 81,0% tot 80,7% en die Noord-Kaap van 108,8% tot 107,3%.
Provinsies waar damvlakke gestyg het, is die Wes-Kaap waar vlakke toegeneem het van 62,8% tot 63,2% en Gauteng wat ’n toename van 100,2% tot 100,7% ondervind het. In Mpumalanga en Limpopo het die vlakke dieselfde gebly op onderskeidelik 95,2% en 88,2%.
Watervoorsieningstelsels wat op dieselfde vlak gebly het is Kaapstad met 75,4%, Luvuvhu op 101,1% en Umhlathuze op 100,1%. Die Algoa-voorsieningstelsels wat die Nelson Mandelabaai Metro van water voorsien, is een van vyf wat ’n effense verbetering getoon het van 14,8% ’n week gelede tot 14,9% nou. Butterworth se stelsel het geklim van 99,3% tot 99,6%, Krokodil-Oos van 100,2% tot 100,3%, Klipplaat van 99,7% tot 100,1% en Polokwane van 101,5% tot 101,7%.
Die oorblywende ses voorsieningstelsels het ’n afname getoon. Die grootste een, die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, het afgeneem van 100,1% tot 99,7%, die Amathole van 76,2% tot 74,7%, Bloemfontein van 99,1% tot 98,0%, Krokodil-Wes van 99,6% tot 99,1%, Umgeni van 99,1% tot 98,6% en die Oranje-stelsel van 99,2% tot 99,0%.
Die departement wys daarop dat die somerreënseisoen waarskynlik eers in Oktober sal begin en dat Suid-Afrika se watervoorraad spaarsamig gebruik moet word om te verseker dat die opgegaarde voorraad nie opraak nie.