
Die chaos rondom die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se aankope van grond behoort te verbeter noudat slegs professionele waardeerders die pryse van plase gaan bepaal.
Dispute rondom eiendomspryse is een van die probleme wat mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die departement, uitgewys het as rede waarom die departement so ‘n trae rekord met die aankope van grond vir grondhervorming het.
Shabane het gesê dat gewone amptenare van die departement in die verlede gebruik is om dié waarderings te doen. In ‘n ondersoek van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het dit al aan die lig gekom dat dokumente vir die waardasie van grond soms vervals is en ook bewerings van amptenare wat omkoopgeld gevra het.
Verlede jaar het die departement hom aan 30 plaasaankope binne drie maande onttrek. Shabane het verduidelik dat hulle meeding met private kopers wat vinniger die transaksie kan beklink en soms is daar dispute rondom die eiendomsprys wat nie opgelos kan word nie. “Soms moet ons teruggaan na die waardeerder om uit te vind waarom hou die grondeienaar vol oor ‘n spesifieke prys wat betaal moet word.
“Ons kry ‘n ander waardeerder in om te bepaal of sy prys en die van die ander waardeerder verskil.”
Shabane het gesê die omkeertyd van wanneer ‘n plaas geïdentifiseer word en die aankoop daarvan, behoort gewoonlik nie langer as vyf maande te duur nie. Wanneer dispute oor prys intree en dit nie opgelos kan word nie, laat vaar die departement gewoonlik ná ses maande die stryd want hy kan nie sy prys onder markwaarde regverdig nie.