
Die interdik verbied mnr. Julius Malema en die EFF om mense aan te hits om private eiendom te betree en dit onwettig te beset.
Malema en die EFF het in Januarie 2023 die hooggeregshof in Pretoria genader en het om verlof tot appèl teen die interdik aansoek gedoen. Die hof het hul aansoek van die hand gewys en die EFF het die Grondwethof genader.
“Die implikasies van Malema en die EFF se intense desperaatheid om hierdie uitspraak omver te werp, is kommerwekkend. Hoekom is die EFF so vasbeslote om wetteloosheid te wil aanblaas?” sê mnr. Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.
“Hierdie beslissing is egter nog ’n groot oorwinning vir die reg op private eiendom en ’n verwoestende nederlaag vir diegene wat misdadigheid en geweld wil aanhits. AfriForum verwelkom die Grondwethof se bekragtiging van die hooggeregshof se sterk oordeel teen die aanhitsing van grondbesettings.”
Dankbaar
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê ’n mens is dankbaar vir elke stukkie optrede teen Malema se siek denke wat Suid-Afrika net destabiliseer. “Ons is dankbaar dat hierdie proses van AfriForum, wat al so ’n lang pad kom, uiteindelik nou gefinaliseer is en sy stertvere ’n bietjie sal knip.
“Malema het oor ’n tydperk heen Suid-Afrika deur middel van ekonomiese sabotasie gekortwiek. Sy uitsprake veroorsaak onsekerheid en spanning. Daarom is dit goed dat elke moontlike stap gedoen word om hom by te kom.”
Mnr. Willem da Chavonnes Vrugt, voorsitter van Agri SA se grondsentrum, sê dit is verblydend dat die Grondwethof onlangs twee gunstige uitsprake ten opsigte van die beskerming van basiese regte gelewer het.
“Die hof het finaal beslis dat waterreghouers hul waterregte mag oordra ooreenkomstig die bepalings van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1996). Die hof het ook bevestig dat, om vergoeding te ontvang vir die oordrag van watergebruikersregte, nóg verbode nóg onwettig is in Suid-Afrika. Agri SA was instrumenteel in die finansiering van hierdie regsgeding.
“Die tweede uitspraak deur die Grondwethof ten gunste van AfriForum is ewe belangrik aangesien dit beklemtoon dat die reg op private eiendomsreg gerespekteer moet word en dat die aanhitsing van mense om private eiendom sonder toestemming te betree en te beset, lynreg bots met die waardes vervat in die Grondwet. En dat dit neerkom op misdaad en ongrondwetlike optrede.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.