
Die SA suiwelbedryf is een van die mees winsgewende en besbestuurde bedrywe op plaasvlak in die wêreld, maar dit moet hierdie mededingendheid behou om hom teen ingevoerde produkte te beskerm.
Sodoende kan die plaaslike bedryf ook verseker dat hy voortgaan met sy sterk basis as produsent van vars én kort raklewe-produkte, het mnr. Basil Doonan, 'n landbouraadgewer van Tasmanië, Australië, op die tiende Grootkuddekonferensie by Winterton gesê.
Hy is was met sy 20ste besoek aan Suid-Afrika, waartydens hy in totaal sowat twee jaar van sy lewe hier deurgebring het. Doonan moet geleenthede vir die SA suiwelbedryf vir die volgende dekade identifiseer.
'Slaan munt'
Doonan het gesê die bedryf moet munt uit sy vermoë slaan om internasionaal mededingend te wees. Dan kan hy hom teen suiwelinvoer staal en geleenthede vir onbeperkte groei en uitbreiding deur middel van die wêreldmark benut wanneer geleenthede opduik.
“Die sterk punt van die plaaslike suiwelbedryf is die vermoëns van sy goed-opgeleide eienaars en bestuurders, waarsonder dit nie moontlik is om die bedryf se ingebore, groot potensiaal vas te vang nie, waaronder die relatiewe lae (maar stygende) grondpryse en vermoë om groot hoeveelhede voer van ‘n hoë gehalte te produseer,” het hy gesê.
Regstreeks gekoppel aan hierdie belangrike sterk punt (boere se vermoëns), is die noodsaaklikheid om dieselfde mense en die volgende generasie verder te laat groei. “Geen struktuur bestaan om dit op ‘n internasionale basis te doen nie,” het Doonan gesê.
Winsgewende weidings
Suid-Afrikaanse boere het die vermoë onder die knie om winsgewende weidings te produseer en dit met swaar belading te bestuur, maar dit beteken bloot dat een of twee generasies hierdie proses verstaan. Wat van die volgende generasie? wou hy weet.
Nog ‘n bedreiging is die gebrek aan erkenning en ondersteuning deur die Regering as 'n bedryf wat sy bydrae tot die ekonomie maak. Dit is egter ‘n lot wat die Suid-Afrikaanse melkbedryf met ander lande deel.