Verskeie landbouleiers het oor hul verwagtinge en beskouinge van voorrangsake vir die nuwe jaar na die aanloop tot die verkiesing verwys en gesê hulle is bekommerd dat die ANC-regering aan weinig anders as sy eie politieke oorlewing aandag gaan skenk.
In hierdie opsig kan die landbou ook in hul visier geplaas word. “Dit is nie grond wat kos produseer nie, dit is kundigheid. Daardie kundigheid moet vertroetel en soos goud opgepas word sodat dit behoue bly vir Suid-Afrika,” waarsku mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.
Mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, meen almal sal moet kophou binne die politieke storms wat met die oog op die verkiesing gaan woed. “Te midde daarvan moet die klem wees om die meesterplan vir die landbou toegepas te kry. Ons kan dit nie agterweë laat bly nie. Die probleem gaan wees om daadwerklik daaraan te werk te midde van die verkiesingspolitiek.”