Boere kan finansieël ondergaan as hulle besoedelde watermoet gebruik om hulle produkte te verbou, sê die TLU SA.
Luidens ‘n verklaring sê die organisasie dat boere wat afhanklik is van besoedelde waterbronne groot probleme kan ervaar as hulle produkte afgekeur word omdat dit nie aan die nodige standaarde voldoen nie.
“Indien die owerheid, wat eksklusiewe grondwetlike voogdyskap oor die land se waterbronne uitoefen, nie ingrypende maatreëls in plek gaan sit om die besoedeling van waterbronne te stop en reg te stel nie, sal die aanspreeklikheid vir boere wat genoodsaak is om landboubedrywighede te staak, voor die deur van die regering gelê moet word,” lui die verklaring.
Mnr. Louis Meintjes, ondervoorsitter van die TLU SA, sê hulle besef dat boere self ook aan die besoedeling aandadig is wanneer kunsmis en gifstowwe onoordeelkundig gebruik word. Derhalwe is ‘n omgewingsbestuurskomitee twee jaar gelede in die lewe geroep, en het die TLU SA 'n leerstoel vir waterkwaliteit en voedselsekerheid by die WNNR gestig.
Toenemende kommer, geen aksie
Meintjes sê sedert pres. Jacob Zuma aan bewind gekom het, het hulle op vyf geleenthede met hom samesprekings gehou oor landbou-aangeleenthede. Wateraangeleenthede en kommer oor besoedeling is tydens elke geleentheid bespreek, maar geen aksie blyk te volg nie.
Die tema is ook al met me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, bespreek en versoeke om met me. Bulyewa Sonjica, Minister van Waterwese en Omgewingsake, te vergader was tot dusver onsuksesvol.
Intussen dui die afgelope maande se mediaberigte aan dat kommer oor besoedeling en die invloed op voedselproduksie toeneem.
20 Oktober 2010