
Die streek herstel nog van die langdurige droogte. Boere is daarom onder druk om water in hul boerderye te bespaar om seker te maak hulle het self toegang tot volhoubare waterbronne.
“Statistieke toon dat duisende mense na die Suid- en Wes-Kaap trek,” sê mnr. Cobus Meiring van die Tuinroete-omgewingsforum, “met meer wat in die volgende paar jaar in hul voetspore volg namate die lewenstandaard in die binneland agteruitgaan weens mislukkende munisipaliteite en die wanbestuur van openbare instellings op alle vlakke. Die vraag bly: Waar sal voldoende en volhoubare waterbronne vandaan kom?”
Volgens Meiring word die verskaffing van vars water in Oudtshoorn en omliggende gebiede verbeter danksy grondwater. Dit bring ’n blaaskans in die volgende dekade. In George word waterbeskikbaarheid verbeter danksy die verhoging van die plaaslike damwal.
“Maar selfs hierdie ingrypings sal onvoldoende wees wanneer dit weer droog raak en die reën wegbly, soos dit keer op keer bewys word.”
Hy sê inwoners van Gqeberha en omliggende dorpe is ’n toonbeeld daarvan dat inwoners van stedelike gebiede ook geraak word wanneer water skaars is.
“In Gauteng besef inwoners nou vir die eerste keer dat beurtwater baie erger is as beurtkrag of selfs die styging in brandstofkoste.”
Hy sê dele van die Tuinroete en Suid-Kaap sal nog jare lank die uitwerking van die langdurige droogte in die streek voel. Verskeie kommersiële boere in die Karoo en Klein-Karoo moes weens die droogte hul boerderye laat vaar.
Boerdery sonder water onmoontlik
“Watersekerheid staan uit as een van die faktore wat lewensvatbare boerdery bedreig. Boere kan planne beraam teen beurtkrag en het hulle geen keuse as om die stygende brandstofkoste te absorbeer nie, maar sonder voldoende water is boerdery onmoontlik.”
Hy sê grondeienaars kan baie meer doen om te verseker dat hulle hul eiendomme – en gevolglik die hele streek – meer bestand maak teen droogtes.
Die twee mees haalbare en kostedoeltreffende opsies is om dorstige indringerplante op hul eiendomme te verwyder en om te belê in watertenke en waterbesparende tegnologie.
“Daar is voldoende bewyse dat indringerplante groot hoeveelhede oppervlak- en grondwater opsuig. Private grondeienaars kan baie doen om hul varswaterbronne te beskerm deur hul grond skoon te maak van indringerplante en om hergroei onder beheer te hou. Terselfdertyd beskerm hulle hul huise teen die gevaar wat die plante inhou met veldbrande.”
Volgens CapeNature se indringerplant-bestuursblad kan indringerplante vinnig voortplant en versprei. Hulle neem waardevolle water en spasie weg van inheemse plante. In gebiede met erge indringing kan die plante waterafloop met tot 30% verminder. Hulle gebruik meer water en skep meer brandstof vir verwoestende veldbrande. Hulle het ook ’n verwoestende effek op ekostelsels.
Die tien vernaamste indringerplante in die Wes-Kaap is die rooikrans, swartwattel, portjackson, hakea, langblaarwattel, stinkboon, Australiese mirteboom, spinnekopbloekom, trosden en Australiese swarthout.