‘n Bespreking oor die vestiging van Suid-Afrikaanse boere in die Republiek van die Kongo word in Desember in Centurion gehou, sê Agri SA.
Luidens die organisasie se jongste nuusbrief kan belangstellendes meer inligting oor die proses wat gevolg moet word vir boere om die Kongo te besoek en hulle daar te vestig, by die geleentheid bekom.
Die sessie word ook aangebied om ‘n affiliasie-struktuur vir voornemende Kongo-boere te finaliseer.
‘n Kontrak
Agri SA is tans besig om ‘n Regering tot Boer-kontrak met die Minister van Landbou van die Kongo saam te stel. Dié kontrak sal spesifiek fokus op aktiwiteite op individuele plase, die stipulering rakende grense van ‘n plaas, en terme en voorwaardes vir boerdery aktiwiteite.
“Die ooreenkoms sal boere help om besighede in die Republiek van die Kongo te vestig, bankrekeninge te open en om te begin boer met die beskerming van die genoemde ooreenkomste met al die voordele vir die boer soos deur Agri SA onderhandel,” lui die verklaring.
Agri SA het in Oktober 2009 ‘n ooreenkoms met die Regering van die Kongo aangegaan wat voorsiening maak vir ‘n tydperk wat boere grond in die land mag benut asook vir die administratiewe en wetlike sake hierby betrokke.
Die sessie
Die sessie sal op 9 Desember 2010 om 14:00, te Inkwazi Office Park, Blok D, Embankmentweg, Centurion plaasvind. Belangstellendes moet Heléne Swanepoel by 012 643 3440 of helene@agrisa.co.za kontak voor Vrydag, 3 Desember 2010, om bywoning te bevestig.
22 November 2010