
Mnr. Gerhard Bruwer se suksesstrategie om sy bydrae tot Suid-Afrika se voedselsekerheid te lewer behels ook diversifikasie, waardetoevoeging en risikoverspreiding. Hy benut die bedingingsmag van die skaalgrootte van sy familie se Genade-boerdery om beter pryse vir produkte en laer insetkoste te beding. Hy is op die jaarkongres van Agri Noord-Kaap as provinsiale wenner aangewys en sal nou teen die kandidate van die ander provinsies meeding om die kroon van Agri SA en Toyota se Jongboer van die Jaar.
Gerhard en sy twee broers, Hannes en Vickie, aanvaar die verantwoordelikheid van hul afsonderlike eenhede van sowat 2 000 ha besproeiingsgrond wat die groter Genade-boerdery van mnr. Vickie Bruwer, hul pa, uitmaak.
Koring, gars, kommersiële mielies, pekanneute, druiwe en ’n beesvertakking maak deel uit van die sowat tien gediversifiseerde produksievertakkings van die groter boerdery.
Proewe word met onder meer aartappels, saadartappels en die toedieningsvlakke van kunsmis en gif gedoen. ’n Bepaalde kultivar word eers op groot skaal aangeplant ná twee jaar se suksesvolle plaasproewe.
Gerhard is lid van die Douglas-landbou-unie en die Rietvaal-boerevereniging, en dien in Graan SA se hoofbestuur vir streek 25. Hy is ook voorsitter van Graan SA se grondboonwerkgroep, lid van Douglas se jongboerbestuur en op die dagbestuur van Oranje-Vaal-watervereniging op Douglas. ’n Bemagtigingsprojek vir sy werkers behels onder meer die verkryging van tenders vir waterregte van 30 ha langs die Rietrivier by Jacobsdal.