“As ’n nasie was ons al naby aan afgronde, maar moedverloor en tou opgooi
is ook nie nou ’n opsie nie.” Só lui GWK se verklaring namens die
besproeiingsboere wat op 20 Januarie by die Douglas Lusernpoel-aanleg buite
Douglas bymekaar gaan kom om die “omvang van die huidige krisis, die boodskap
aan pres. Cyril Ramaphosa en moontlike oplossings” te bespreek.
Buiten die mediakonferensie gaan daar ook ’n bewusmakingsveldtog in die distrikte Hopetown, Prieska en Vaalharts plaasvind. “Dit word gedoen in ’n opbouende gebaar dat die landbousektor deel moet wees van die oplossing om die elektrisiteitskrisis aan pak wat Suid-Afrika oor die afgrond kan druk,” skryf hulle.
Hoewel hulle erken dat almal geraak word deur die beurtkrag, plaas hulle klem op die ondenkbare potensiële skade wat beurtkrag en die onlangse hittegolf in die besproeiingsgebiede aangerig het.
“Elektrisiteit is dringend nodig om hierdie oeste te red. Terwyl elke landsburger reeds opofferinge maak, moet voedselsekerheid ter wille van ons almal tot elke prys koste beskerm word. Die landbousektor en verwante bedrywe moet voedsel, broodnodige krag, vir die hele Suid-Afrika verskaf. Elektrisiteit is nodig daarvoor. 'Krag is kos en kos is kragvir die hele Suid-Afrika,’ ” skryf hulle.
Boere bekommerd oor elektrisiteitskrisis
Mnr. Nicol Jansen, ondervoorsitter van Agri SA, meen dat dié mediakonferensie direk uit die besproeiingsgemeenskap kom om hul misnoeë uit te spreek en die kollig te werp op die uitwerking van te min krag, wat veroorsaak dat hulle nie genoeg water kan toedien nie.
Hy sê die gemeenskap is uiters bekommerd oor die krisis. Die boere is deeglik bewus van die ekonomiese druk op hul boerderye. “Ons sien dat Statistieke Suid-Afrika aandui dat die nasionale landbouskuld astronomies toeneem en dit is in ooreenstemming met wat die boere ervaar.”
Die gebied waarbinne die bewusmaking plaasvind, is afhanklik van die
huidige mielie- en sojaboonoeste om finansieel staande te bly. Jansen sê daar
is baie gevalle waar boere nie die gelykspeelpunt ten opsigte van insetkoste
kon haal nie en die meeste boere moes by banke gaan aanklop om finansiering.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.