
Me. Jahni de Villiers, hoof van arbeid en ontwikkeling by Agri SA. Sy was deel van ’n groep afgevaardiges van Agri SA wat saam met Agri Oos-Kaap deur dié provinsie getoer het om Agri SA se werksaamhede rakende belangrike kwessies, soos arbeid, grondhervorming en landelike veiligheid, te verduidelik. Talle vrae van boere is ook beantwoord.
De Villiers sê hoewel sy nie die antwoorde het op hoe boere hierdie verwagtinge moet bestuur nie, raai sy hulle aan om alle kommunikasiekanale met hul werknemers oop te hou en om eerlik met hulle te wees.
Volgens haar is die kanse skraal dat die nasionale minimum loon vanjaar reeds ingestel sal word. Geen latere datum vir instelling is nog afgekondig nie.
Politieke spel
Boere word aangeraai om perspektief te behou wanneer hulle nuus oor stakings en uitsprake oor die nasionale minimum loon in die media sien.
“Onthou, selfs vakbonde is ondernemings wat selfonderhoudend moet wees en op sakebeginsels moet staatmaak,” sê De Villiers. Dit geld byvoorbeeld stakings en optogte wat tans deur die Suid-Afrikaanse federasie vir vakbonde (Saftu) gereël is.
Die Food and Allied Workers’ Union (Fawu), wat na die belange van landbouwerkers omsien, is deel van Saftu. Saftu, wat ’n wegbreekgroep van Cosatu is, is tans nog nie ’n lid van die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) nie en kan dus nog nie deelneem aan besprekings oor arbeidskwessies nie.
“Die optogte en uitsprake is absoluut daar om hulle relevant te laat lyk en druk op Nedlac te plaas om hulle toe te laat.”
Landbou sou loonvlak kon haal
De Villiers sê Agri SA het verlede week ’n voorlegging by die Regering ingedien oor sy eie voorstelle vir die nasionale minimum loon vir die landbousektor.
“Die landbousektor het reeds ’n minimum loon, en om ons te dwing om die minimum loon so dramaties te verhoog, gaan geweldig baie druk op die sektor plaas.
"Ons meen indien die sektorale minimum loon gestyg het soos wat dit die afgelope paar jaar moes gestyg het, sou ons natuurlik – oor ‘n meer geleidelike tydperk en met minder druk op die boere – by die voorgestelde vlak van die nasionale minimum loon uitgekom het.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.