
Mnr.
Angus Williamson, voorsitter van die Mooi Mpofana-landbouvereniging, sê die
betogers gooi klippe, brand bande en verhinder voertuie om die dorp binne te
gaan. As gevolg daarvan kan onder meer melk- en voervragmotors nie deur die
dorp beweeg nie.
Hy sê die vereniging het die munisipaliteit en die polisie van die betoging in kennis gestel en wag dat orde herstel moet word.
Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê die betoging het om 03:00 begin toe gemeenskapslede die R62 en R103 met brandende bande en klippe afgesper het.
Om 05:30 is die polisie in kennis gestel dat ’n 26-jarige betoger deur ’n onbekende verdagte op Greytownpad doodgeskiet is. Die slagoffer is in die bors geskiet en op die toneel dood verklaar. Die motief vir die beweerde moord is in hierdie stadium onbekend.
Die polisie monitor die Mooirivier-area. Klagte van moord en openbare geweld word ondersoek.