Maar toe ontdek hy dat die veearts ook weens beurtkrag geen sein het nie. Hy moes nóg verder ry tot by die spreekkamer in Makhanda. “Dit is vir ons deesdae nie ongewoon om vir ’n week of langer sonder enige sein hoegenaamd te wees nie,” vertel ’n gefrustreerde Vigne.
“Ons kan die selfoontoring op Tarkastad van die plaas af sien, maar daar is geen ontvangs nie.” Soos baie ander boere, maak hy op tweerigtingradio’s staat om kontak met die buitewêreld te hê en het hy ’n WiFi-toring by die huis. Maar, sê hy, ’n boer kan nie heeltyd in die huis sit nie, en alternatiewe kommunikasiemiddele is ’n bykomende uitgawe.
Landbou-organisasies met wie Landbouweekblad gepraat het, beaam dat selfoonontvangs op die platteland baie verswak het weens aanhoudende beurtkrag. Die aantal klagtes wat Vrystaat Landbou (VL) van boerderygemeenskappe ontvang het, het die afgelope twee jaar skerp toegeneem, sê dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder.