Waarskuwings van moedelose produsente wat dit oorweeg om tou op te gooi weens voortslepende beurtkrag en die astronomiese koste om diesel vir kragopwekkers aan te koop, klink reeds op.
“Die aankoop van diesel en petrol om elektrisiteit op te wek raak ’n enorme finansiële las vir duisende boere,” skryf mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA. “Die bykomende energie- en ander insetkoste wat boere weens beurtkrag moet aangaan, raak onhoudbaar. Voeg daarby die massiewe styging in verskepingskoste, verpakking en kunsmis, en dit word duidelik dat ernstige probleme die volhoubaarheid van die landbousektor in die gesig staar.”
Volgens Agri SA het die koste van diesel sedert 2016 met van 160% tot 170% gestyg. Verskepingskoste per vraghouer het vanaf R17 000 in 2017 tot van R150 000 tot R170 000 gestyg. Sekere kunsmispryse het ook reeds met van 100% tot 150% gestyg.