
Vrystaat Landbou (VL) se landelike veiligheidskomitee het in 38 Vrystaatse boerderygemeenskappe ’n opname gedoen rakende die impak van beurtkrag op hul bedrywighede.
Luidens ’n verklaring wat deur VL uitgereik is, bemoeilik die gebrek aan selfoonopvangs en -seine kommunikasie vir boere tydens beurtkrag en kan nooddienste ook ontoereikend wees.
“VL kry toenemend klagtes van boerderygemeenskappe rakende die onbeskikbaarheid van selfoonseine en -netwerke in hul areas. Boere het geen opvangs op plase nie en daarom neem misdaad toe.”
In die studie wat VL onder leiding van dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis, en dr. Jack Armour, handelsbestuurder, uitgevoer het, het 5% van respondente getoon dat hulle soms meer as 40 uur beurtkrag per week ervaar.
Die opname toon verder dat boere tydens beurtkrag ook gebuk gaan onder meer misdaad:
· 40,55% van die misdade hou verband met produkdiefstal soos diesel, saad en kunsmis;
· 24,9% is infrastruktuurdiefstal waaronder koperkabels, sonpanele en sinkplate;
· 18,43% is veediefstal; en
· 15,7% is diefstal van werktuie en voertuie.
Meer as 60% van boere het gesê dat hulle die afgelope drie maande een tot vier misdaadvoorvalle gedurende beurtkrag ervaar het.
Beurtkrag en selfoonnetwerke
Die studie het bevind daar woon gemiddeld vyf familielede op plase.
Altesaam 92,5% van die mense gebruik Vodacom of MTN se selfoondiens en ervaar selfoonprobleme met hul diensverskaffers by veral Bultfontein, Clocolan, Dewetsdorp, Heilbron, Hoopstad, Jacobsdal, Kestell, Koppies, Marquard, Odendaalsrus, Petrusburg, Rosendal, Tweeling, Verkeerdevlei en Welkom.
“Boere ervaar meer voorvalle van misdaad tydens beurtkrag. Dit het ook ’n nadelige impak op die landbou se kommunikasienetwerke, veral in kritieke tye wanneer die polisie of die nooddienste ontbied moet word,” sê VL.
Optrede nodig
VL maan selfoondiensverskaffers om met dringende ingrepe vorendag te kom of om subsidies te gee vir die oprig van WiFi-torings en groen energie om ten einde kommunikasie in landelike gebiede te verseker.
VL doen ook ’n dringende beroep op die regering om alternatiewe kommunikasienetwerke tot stand te bring, soos radio- en satellietverbindings, om boere en die gemeenskappe te beskerm.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.