
Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê in reaksie op Statistieke Suid-Afrika se jongste voedselinflasiesyfer van 12,7% in Desember, wat klein bietjie laer was as die 12,8% in November, dat erger beurtkrag nou nuwe risiko’s skep.
Beurtkrag ontwrig die besproeiing van gewasse, maar ook bedrywighede by voedselverwerkingsmaatskappye, met gepaardgaande kostestygings. Dit verteenwoordig opwaartse risiko’s vir voedselinflasie.
“Voor die tydperk van verhoogde beurtkrag het ons verwag dat Suid-Afrika se voedselinflasie vanjaar tot 5,5-6% sou verlangsaam, laer as die 9,5% in 2022. Hierdie ramings het nou dalk hersiening nodig sodra ons ’n duidelike begrip het van die skaal van ontwrigting in die landbou- en die breër voedsel-, vesel- en koeldranke-waardeketting.
“Ons is besig met ’n opname om die skaal van dié ontwrigting en moontlike reaksiemaatreëls deur verskeie ondernemings te meet.”
Faktore in jongste syfer
Wat die jongste syfer betref, is die verlangsaming meegebring deur die pryse van vleis, olies en vette.
Sihlobo sê voedselinflasie vir 2022 in geheel was gemiddeld 9,5%, vergeleke met 6,5% in 2021 en 4,8% in 2020. Hoë pryse van grane, groente-olies en vleis was in die breë vir die grootste deel van 2022 die hoofaandrywers van voedselinflasie.
Dit is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Die styging in landboukommoditeitspryse in 2021 en die eerste drie kwartale van 2022 het internasionale probleme weerspieël. Die stygings is deur verskeie faktore veroorsaak, soos die droogte in Suid-Amerika, hoër verskepingskoste, die sterk vraag na landbouprodukte in China en die oorlog tussen Rusland en Oekraïne, sê Sihlobo.
Hoër internasionale pryse vir grane en oliesade was vir die grootste deel van 2022 die kernaandrywers van koste in die kategorieë vir brode en grane, en vir olies en vette in die verbruikersmandjie vir voedselinflasie. Brode en grane se gewig in die mandjie is 21%.
Ten opsigte van vleis, waarvan die gewig 35% is, het wye uitbrekings van bek-en-klouseer in 2022 voorgekom. Dit het tot ’n daling in slagsyfers by sommige voerkrale gelei, wat rooivleispryse uiteindelik op hoër vlakke gehou het, anders as wat aanvanklik verwag is, sê Sihlobo.
“Die slagsyfers van beeste en skape was byvoorbeeld in Oktober 2022 onderskeidelik op ’n jaargrondslag 10% en 7% laer.”
Oor vooruitsigte vir voedselinflasie vir vanjaar, sê Sihlobo dat die internasionale graan- en oliesadepryse, wat belangrike aandrywers in die styging in inflasie was, ietwat gedaal het. So byvoorbeeld het die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbou-organisasie (VLO) se wêreldvoedselindeks in Desember met 2% teenoor die vorige maand gedaal, die negende opeenvolgende maandelikse daling.
“Gewoonlik sal dié internasionale gebeure mettertyd ook in Suid-Afrika en uiteindelik in die voedselinflasiedata in die komende maande weerspieël word.” Die plaaslike landbouseisoen se toestande is boonop in die breë gunstig en hoë somerreënval het voordele gebring. Die erger beurtkrag skep egter nou nuwe risiko’s, sê Sihlobo.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.