“Die impak op die hele waardeketting is katastrofies, van die boer op die plaas tot by fabrieke wat nie kan slag nie,” sê mnr. Frans van Heerden, bestuurder van die handelsafdeling van Astral Foods.
Die afgelope tyd se erge beurtkrag bring vir produsente groot bykomende koste mee vir onder meer diesel vir kragopwekkers, bykomende skofte wanneer werk ingehaal moet word, wat oor naweke dubbele vergoeding behels terwyl werkers steeds vir skofte tydens beurtkrag betaal moet word, en om hoenders wat al geslag moes gewees het, langer te moet voer. Die dieselkoste geld benewens by slagplase ook by hoender- en broeihuise op plase.
Van Heerden sê omdat die fabrieke gedurende beurtkrag staan, verhoog die slagouderdom van hoenders en dit benadeel produksiedoeltreffendhede soos gemeet in voeromsettong en vrektes.