
Eskom het die week laat blyk beurtkrag gaan vir ten minste die volgende twee jaar deel van Suid-Afrikaners se lewe bly.
Volgens mnr. Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, kan Eskom benewens noodsaaklike instandhoudingswerk om die kragnetwerk aan die gang te hou, nie meer bekostig om so baie op diesel staat te maak vir sy oopsiklus-gasturbines nie.
Oberholzer het Woensdag tydens 'n mediakonferensie bekend gemaak mnr. Rhulani Mathebula, waarnemende opwekkingshoof by Eskom, het bedank. Hy was maar ses maande in dié pos en verlaat Eskom einde November. Volgens Oberholzer het Mathebula aangedui die druk van die pos het “ongelooflike eise op hom en sy gesin geplaas”. Hy word vervang deur mnr. Thomas Conradie, wat in die pos sal waarneem.
Diesel raak nou te duur vir Eskom
Aanvanklik het Eskom R6,1 miljard vir diesel in sy huidige boekjaar begroot, maar moes dit hersien en verhoog tot R11,1 miljard.
“Die R11,1 miljard is klaar verbygesteek. Ons het nou reeds meer as R12 miljard op diesel bestee.”
Hy het dit duidelik gemaak daar is eenvoudig nie meer genoeg kontant om hiermee vol te hou nie.
“As ons nie meer geld het vir diesel nie, gaan dit die kans op beurtkrag verhoog.”
Wanbetalers verhoog kans op beurtkrag
Oberholzer het gesê dit is nou tyd dat munisipaliteite wat as wanbetalers van Eskom-skuld geïdentifiseer is, hul impak op beurtkrag begin besef en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
Munisipaliteite se skuld aan Eskom was R2,6 miljard in 2014. Teen 2019 was dit R10 miljard en dit is nou reeds meer as R52 miljard.
Mnr. Monde Bala, hoof van verspreiding by Eskom, het gesê Eskom weet nie wanneer die maatskappy hierdie skuld gaan terugkry nie. “Ons hou ons asems op oor wat die minister van finansies moontlik volgende jaar hieroor kan aankondig. Ons het gedoen wat ons kon. Ons het byvoorbeeld sommige munisipaliteite hof toe geneem, maar dit was nie suksesvol nie. Die probleem is groot en strukturele ingryping is nodig. Ons kan nie so aanhou nie. Dit is nie volhoubaar nie.”
Oberholzer het Dinsdag in ’n onderhoud aan Landbouweekblad gesê daar is planne om kragvoorsiening na wanbetalers af te sny. “Dit is egter nog glad nie goedgekeur nie. Ons weet dis emosionele saak, maar dis ’n oorweging; ons kan eenvoudig nie so aangaan nie.”
Kapasiteit moet verhoog
Eskom se vermoë om krag op te wek is veral baie onder druk.
"President Ramaphosa het reeds in Julie dit duidelik gemaak dat Eskom gehelp moet word om sy eie prestasie reg te ruk en bykomende kapasiteit te verkry. Dit is egter nou al soveel maande later,” het hy aan Landbouweekblad gesê.
“Suid-Afrika kort dringend van 4 000 MW tot 6 000 MW nuwe opwekkingsvermoë tydens spitstye, maar dit kan teen 2035 tot 10 000 MW styg. Ons het daarom dringend bykomende kapasiteit nodig. Die tyd vir praatjies is verby, daadwerklike optrede is nou nodig.”
Teen einde 2035 beoog Eskom om slegs ses steenkoolkragsentrales oor te hê, saam met Koeberg. Ná 2051 gaan daar moontlik net twee steenkoolkragsentrales oor wees.
“Eskom se kapasiteit uit steenkool gaan dus met 78% verminder, terwyl ander bronne soos gas, kernkrag en hernubare energie toenemend ’n groter rol gaan moet speel. Die werklikheid is egter dat die steenkoolkragsentrales tans vir meer as die helfte van Suid-Afrika se kragvoorsiening sorg.
“Ek glo kernkrag en ’n hibriede stelsel is die antwoord, want ons kan nie nét op hernubare energie staatmaak nie.
“Ons kan egter nie nóg ’n Koeberg bou nie. Die koste daarvan sal astronomies wees en dit gaan te lank duur.”
Dit het Woensdag bekend geword die projek om Koeberg se leeftyd met nog 20 jaar te verleng, gaan ongeveer R20 miljard kos.
Instandhoudingswerk moet aanhou
Hy het benadruk Eskom moet intussen aanhou om noodsaaklike instandhoudingswerk by kragsentrales voort te sit, al beteken dit beurtkrag moet ingestel word.
“Eskom sit met verouderde stelsels en infrastruktuur wat nie goed in stand gehou is nie. Dit maak nie meer saak wat die redes hiervoor is nie, daar is nagelaat om instandhouding te doen en dít is hoekom ons is waar ons is.”
Hy glo beurtkrag kan vir ten minste nog twee jaar deel van Suid-Afrikaners se lewens wees.
Korrupsie en vandalisme
Oberholzer het gewaarsku korrupsie, misdaad en vandalisme hou nie op nie. “Een ding wat ek geleer het, is dat gulsigheid ’n ongeneeslike siekte is.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.