
Mnr. Chris Yelland, besturende direkteur van EE Business Intelligence en energiekenner, het op die Graanhanteringsorganisasie van Suid-Afrika se simposium op Mosselbaai gesê die plan moet egter meer as net woorde wees. Dit moet spesifieke optrede en teikens bevat wat behaal moet word. Die nasionale prioriteitsprojek om beurtkrag te beëindig, behoort ’n onverdeelde doelwit van die regering, Eskom, munisipale metro’s en klante van alle segmente te wees.
Suid-Afrika se beskikbaarheid van energie was aan die begin van vanjaar sowat 50% laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar en dit daal steeds. Instandhouding is ’n oplossing, maar die einde van die probleem gaan nie voor die einde van volgende jaar moontlik wees nie. Al die kragsentrales wat instandhouding nodig het, kan nie gelyktydig afgeskakel word nie.
Landbou baie kwesbaar
Die landbou is baie kwesbaar, veral as elektriteitsverlies agt uur lank word. Die landbousektor het ’n sleutelrol om te speel en moet meetbare nuwe teikens aankondig vir die private opwekking van elektrisiteit. Dit sal nie ’n maklike taak wees nie, maar dit is beslis haalbaar as alle belanghebbendes toegewyd en vasberade is. Kontinuïteit in besigheid is nodig. Boere help nie net hulself nie, maar die hele land.
Om die kragprobleem op te los, is vinnige optrede nodig. Pres. Cyril Ramaphosa konsulteer aanmekaar, maar sy plan is te wyd. Te veel mense is betrokke. Dit moet dadelik gebeur, want Eskom kan nie binne twee of drie jaar herstel word nie.
“Ek was vroeër ’n voorstander van ’n ramptoestand, maar die huidige een stel teleur. So ’n toestand verg deeglike beplanning vooraf met spesifieke take en doelwitte wat binne ’n bepaalde tyd bereik moet word. Die huidige ramptoestand is meer soos ’n blanko tjek sonder spesifieke doelwit,” het Yelland gesê.
Hoewel daar gereeld sprake is van ’n algehele kragonderbreking, is dit baie onwaarskynlik. Verskeie stappe kan gedoen word om dit te voorkom. ’n Lang lys probleme wat uiteindelik op anargie kan uitloop, is die gevolg van so ’n verduistering. Dit sal lank duur om te herstel.
Neem eienaarskap
Kliënte, insluitend dié in die landbousektor, behoort verantwoordelikheid vir hul energietoekoms te neem en deel van die oplossing te word. Die landbou het baie geleenthede in hernubare energie en voordele wat benut kan word.
Boere het onder andere genoeg ruimte en grond om sonkragstelsels te bou. Boere word hoofsaaklik deur Eskom bedien, wat meer gevorderd is as munisipaliteite. Geen Nersa-lisensies word benodig nie en daar is geen onoorkombare regulatoriese hindernisse nie. Eskom moedig die gebruik van hernubare energie deur boere aan sonder om onmoontlike tegniese hindernisse te stel.
Banke is ook bereid om tuis-kragopwekking te finansier. Daarby is boere praktiese mense wat in staat is om die oprigting en instandhouding van die stelsels te behartig. Die tempo waarteen die gewone elektrisiteitsprys styg, maak hernubare energie en battery-opberging al hoe meer betalend.
“Baie min lande het beurtkrag, en dié wat wel het, los hul probleem op. Suid-Afrika kan dit ook doen deur deel van die oplossing te word,” het hy gesê.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.