
Met meer as 30% van Suid-Afrika se suikerriet wat onder besproeiing verbou word, is nog ’n sektor in die landboubedryf benoud oor die gevolge van veral hoë vlakke van beurtkrag.
Vlak 6 en hoër beurtkrag kan verliese van miljarde rande vir die bedryf beteken. Suid-Afrika is tans weer op vlak 5.
Mnr. Andrew Russell, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Rietkwekers, sê volgens inligting wat hulle ingesamel het, gaan die plaaslike suikerbedryf vanjaar ongeveer R700 miljoen verloor weens beurtkrag.
Beurtkrag raak veral 1 135 kwekers wat hul suikerriet besproei. Hierdie kwekers verskaf werk aan 10 000 mense.
“ ’n Geskatte 34% van Suid-Afrika se suikerriet word in besproeiingsgebiede gekweek, insluitend Komatipoort, Malelane en Pongola. Die modellering wat toegepas is, wys volgehoue beurtkrag tussen vlak 4 en vlak 6 kan kwekers vanjaar meer as R723 miljoen kos.
“Indien beurtkrag verhoog word na vlak 6 tot vlak 8 kan die bedryf R1,8 miljard verloor. Enigiets hoër as vlak 8 jaag die moontlike verlies op na R2,4 miljard,” luidens ’n verklaring.
“Kwekers kan verwag om meer as R189 miljoen se bykomende energiekoste in 2023 aan te gaan weens die onderbrekings van besproeiingskedules. Die meeste besproeiingsboere in KwaZulu-Natal en Mpumalanga gebruik Ruraflex juis om te besproei wanneer laer tariewe geld. Beurtkrag veroorsaak dat kwekers gedwing word om te besproei wanneer elektrisiteit beskikbaar is, ongeag die aanvraag. Gevolglik betaal kwekers beduidend meer vir krag as hulle slegs gedurende spitstye kan pomp as gevolg van beurtkrag.”
Besproeiingskedules hard geslaan
Hy sê buiten vir die verhoogde styging in energiekoste is daar die vooruitsig van verliese in opbrengste omdat daar minder ononderbroke ure vir besproeiing beskikbaar is.
“Kwekers benodig ten minste ses uur se aaneenlopende energie om voldoende te kan besproei. Die wisselvallige kragbeskikbaarheid kan beteken kwekers wat besproei, kan tot 40% se waterkapasiteit verloor, wat sal bydra tot die verlies in opbrengste van meer as R723 miljoen.”
Die voortsetting van beurtkrag sonder voorafreëlings wat besproeiing moontlik kan maak, sal ook langtermyn-implikasies hê.
“Suikerrietstingels wat in die grond gelaat word, kan vir tot 10 jaar riet produseer. Onvoldoende besproeiing verminder nie net die gehalte van riet en veroorsaak opbrengsverliese nie, maar dit sal ook lei tot verhoogde vrektes, wat die lewensduur van die riet aansienlik verkort.
“Hierdie verliese kan katastrofiese gevolge inhou vir kwekers en werknemers in die bedryf.”
Die bedryf se opdraande stryd
’n Paar probleme staar kwekers klaar in die gesig, onder meer die vrywillige sakeredding van Tongaat Hulett wat in Oktober verlede jaar aangekondig is.
Die impak van die gesondheidsbevorderingsheffing, die sogenoemde suikerbelasting, kan erger word as mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, in Februarie moontlik weer ’n verhoging daarvan in sy begrotingstoespraak aankondig.
Die heffing is 2,21 c per gram suiker per 100 ml koeldrank en die eerste 4 gram suiker per 100 ml is vrygestel daarvan. Godongwana het verlede jaar die heffing onveranderd gehou, daar is dus ’n verwagting dat dit vanjaar opgestoot kan word.
“Ons doen ’n beroep op die regering om korttermynmaatreëls in te stel om die impak van beurtkrag op kwekers te verlig, terwyl langertermynoplossings oorweeg word.”
Russell sê een manier is om beurtkrag tot vlak 4 te beperk in besproeiingsgebiede wanneer water die nodigste is. “Dieselrabatte vir produsente wat kragopwekkers moet gebruik, kan ook ingestel word.”