
Mnr. Gerrit van der Merwe, ondervoorsitter van die Sitruskwekersvereniging (SKV), sê beurtkrag is tans ’n groot probleem vir sitrusboere. Boere kan nie hul boorde optimaal besproei nie, wat beteken die volume vrugte wat vanjaar gelewer word, sal laer wees. Dit het ook volgens hom ’n impak op die gehalte van die vrugte.
Die inkomste van sitrusboere sal in die komende seisoen dus laer wees omdat hulle ’n swakker prys vir minder vrugte sal kry.
Intussen het mnr. Justin Chadwick, voorsitter van die SKV, weer ’n beroep op mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, gedoen om ’n paneel by die Wêreldhandelsorganisasie byeen te roep om te beslis oor die nuwe vereistes vir die regulering van valskodlingmot.
“Hierdie stap is selfs belangriker as gevolg van voortslepende beurtkrag wat dit vir kwekers moeilik maak om aan die nuwe regulasies te voldoen teen die tyd dat die nuwe uitvoerseisoen aan einde Maart begin.”
Die moontlikheid bestaan reeds dat 15% tot 25% van die lemoene wat vanjaar vir die Europese Unie (EU) bestem is, nie aan die vereistes sal voldoen nie en dus nie hul bestemming sal bereik nie – en ’n verlies van meer as R500 miljoen vir die sitrusbedryf tot gevolg sal hê.
“Die impak van voortslepende beurtkrag op die sitruswaardeketting vererger hierdie probleem. Die SKV verwelkom die regering se besluit om hawens van beurtkrag vry te stel volgens die huidige nasionale ramptoestand, maar kouepakhuise wat buite haweterminale geleë is, sal sukkel om lemoene tot minder as 2 °C te verkoel en teen daardie temperatuur te hou tot die vraghouer die hawe binnekom en na die EU verskeep word.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.