
Die afgelope week is drie voorvalle in Bothaville, Reitz en Fouriesburg aangemeld.
“Dit lyk of die tendens in die Vrystaat toeneem. Ons het reeds boerderygemeenskappe gemaan om versigtig en paraat te wees oor verdagte bewegings van voertuie en mense op plase. Groot hoeveelhede saad word op een slag gesteel, en die saad moet met ’n vragmotor of bakkie met ’n waentjie vervoer word na ’n afsetgebied of mark wat bestaan.
“Dit is nie een of vyf sakkies nie, maar honderde sakkies saad wat op ’n slag gesteel word. Die waarde kan honderde duisende rande of selfs miljoene beloop, soos in die Steynsrus-saak. Sodra sulke groot verliese voorkom, en waar meer as een voertuig betrokke is, hou dit verband met georganiseerde misdaad. Dit lyk asof ’n verskeidenheid misdadigers betrokke is.”
Twee weke gelede het Buys wyd navraag gedoen by die polisie en sowat 25 veiligheidsverteenwoordigers, en toe is aangedui dat hulle van geen voorvalle bewus was nie.
Verband met ander misdade
Volgens Buys blyk dit of gebiede in die Noord-Vrystaat ook geteiken word en dat ’n oorgrensmisdaadgroep moontlik hiervoor verantwoordelik is. Verdere ondersoek word tans gedoen om vas te stel of saaddiefstal met ander misdade verband hou.
“Saaddiefstal, soos baie ander misdade op landbougrond, hou beslis verband met georganiseerde misdaad deur ’n groep of sindikaat. Dit bly belangrik dat boere alle sake by die polisie aanmeld, sodat tendense of patrone geïdentifiseer kan word, die modus operandi met ander moontlike misdade verbind kan word, en die misdaad in ’n sekere area effektief ondersoek kan word.
“Wanneer verdagtes aangekeer en hulle met meer as een saak verbind kan word, kan dit geëskaleer word vanaf algemene speurders na die eenheid vir georganiseerde misdaad. Dit lei tot suksesvolle vervolging en swaarder vonnisoplegging in die howe.”
Sy sê dit is allerbelangrik dat boere verdagte bewegings by hul onderskeie veiligheidsverteenwoordigers, beheerkamers of landelike veiligheidskoördineerders by die polisie aanmeld. Boere moet ook bestaande én nuwe werkers aan ’n sekerheidsklaringsproses onderwerp om te verseker dat hulle nie misdadigers in diens neem nie.
“Win ook inligting in by werkers oor moontlike verdagte bewegings, en dra dit aan die polisie oor. Waar moontlik, is dit belangrik dat boere saad en enige ander insetprodukte beskerm met tegnologie soos veiligheidskameras en alarmstelsels.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.