
Suid-Afrika sal nooit sonder water wees nie, maar die verbruiker sal in die toekoms sy hand diep in sy sak hiervoor moet steek as waterhulpbronne nie met sorg gebruik word nie.
Die Parlement se portefeuljekomitee vir water en sanitasie het die impak van klimaatsverandering op hierdie hulpbron bespreek. Komiteelede wou by die Departement van Water en Sanitasie weet of die land werklik teen 2020 sonder water sal wees as ingrypings nie plaasvind nie.
Dr. Mangi Mgquba, verantwoordelik vir navorsing na klimaatsverandering by die departement, het gesê maniere bestaan om die land se waterbronne ‘n hupstoot te gee, soos die ontsouting van seewater, maar dit sal beteken dat verbruikers baie meer vir water sal moet betaal.
“Hoe gouer ons kyk hoe om die water wat ons het, optimaal te gebruik, kan ons die opsie vertraag om duurder hiervoor te betaal.”
Dr. Chris Museki, spesialiswetenskaplike by die departement, het gesê hoewel die land nie ’n tekort aan water het nie, is daar ’n tekort aan drinkwater. “Water is oral, maar nie ’n druppel om te drink nie.
“As ons nie ons bestuurstrategieë verander om volhoubaar te wees nie, sal ons sonder water sit wat reg vir menslike gebruik is.”
Hy het uitgewys dat Suid-Afrika onder normale omstandighede die 30ste droogste land in die wêreld is, en wanneer die impak van klimaatsverandering bygereken word, sal die prentjie erger vertoon.
Die departement beweeg nou na ’n stelsel waar damme vir veeldoelige gebruik opgerig word.
Me. Deborah Mochotlhi, adjunkdirekteur-generaal van waterbeplanning by die departement, het gesê daar word gefokus op gebiede wat tans nie water het nie. Boorgate word gesink en die strategie vir grondwater word hersien om te verseker dat dié gebiede voldoende oppervlakwater het.