
Die boodskap vir Suid-Afrikaanse landbou is duidelik: die sektor het ongekende groei in die afgelope twee dekades beleef maar in die volgende tien jaar gaan daar min groei en meestal net ’n sywaartse beweging wees.
Volgens die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) se vooruitskouing vir 2017 tot 2026, wat pas bekend gestel is, is die supersiklus vir kommoditeite verby. ’n Konsolidasie-fase lê voor en die werklike vlak van mededingendheid en volhoubaarheid van die sektor op die wêreldverhoog gaan deeglik getoets word.
BFAP se verslag is ’n jaarlikse gesamentlike projek van onder meer die Universiteit van Pretoria, die Universiteit Stellenbosch, die Wes-Kaapse departement van landbou en meer as 40 medewerkers. Dit is pas in Pretoria bekend gestel.
Wat maak die verskil?
Volgens die verslag gaan faktore soos produktiwiteit, ekonomie van skaal, toegang tot die beste tegnologie, finansiering, inligting en toegang tot markte meer tel as ooit tevore. Diegene wat nie volle toegang tot hierdie ondersteuningsdienste het nie, sal waarskynlik nie oorleef nie – ongeag of hulle kommersiële-, ontwikkelende- of kleinskaalse boere is. Dieselfde geld ook vir landbou-besighede in die waardeketting.
BFAP sê Suid-Afrika tel onder die vyf lande in die wêreld met die laagste vlakke van subsidies. “Om die teikens van die Nasionale Ontwikkelingsplan te haal, is eenvoudig nie moontlik in só ’n omgewing nie.”
Die rede vir die verwagte min groei is ’n oormaat graan en oliesade in die wêreld met internasionale pryse wat reeds die afgelope twee jaar by die laagste punt in tien jaar gedraai het.
Die invloed daarvan is nie in Suid-Afrika gevoel nie weens die kleiner oeste en 'n swakker rand. Weens die rekordoeste en sterker rand het Suid-Afrikaanse pryse in 2017 na uitvoerpariteit beweeg. Graanboere verkeer onder geweldige druk weens die gevolge van lae pryse op hul kontantvloei en skuldposisies.
Herstel van droogte
BFAP glo dit sal meer as een seisoen neem vir die somerreëngebied om van die gevolge van die droogte te herstel. Dit geld ook vir die vee-sektor, waar kuddes herbou moet word en die gehalte van weidings tyd neem om te herstel. Intensiewe veebedrywe, soos die hoender-, vark-, en melkbedrywe, kry egter die geleentheid om in ’n mate te herstel na verlede jaar se hoë graanpryse.
Goeie nuus in die vleisbedryf is dat die uitvoer van beesvleis konstant gegroei het en dat Suid-Afrika oor die afgelope vyf jaar 'n netto-uitvoerder geword het. Lam- en wolpryse het ook skerp gestyg na die droogte.
In die Wes-Kaap is die situasie weens die droogte benard en daar is langtermyngevolge weens waterbeperkings en die beskikbaarheid van besproeiingswater van uitvoerbedrywe. Alle bedrywe in die provinsie hou asem op oor die reënval vir die seisoen.
Kospryse
Hoewel aansienlike groei in bedrywe vir tuinbougewasse oor die afgelope dekade voorgekom het, is die verwagting dat die groei baie gaan afneem, minstens tot die beskikbaarheid van water weer normaal is.
Wat voedselpryse betref het die droogte ’n groot invloed op die bekostigbaarheid van stapelvoedsel gehad.
Die koste van 'n porsie mielie-meel het met 43% gestyg en die koste van 'n mandjie basiese stapelvoedsel met 22%. Die verwagting is egter dat voedselprysinflasie nou met 16% sal daal weens die verbeterde weersomstandighede.
BFAP waarsku dat die oorlewing en groei in die bedryf aansienlike openbare en private beleggings gaan verg. Wat steun uit die openbare sektor betref, sal besteding aan water- infrastruktuur, ondersteuning aan boere en opleiding bo-aan die voorkeurlys moet wees.
Groei
Vir ander beleggings hang dit af of mense glo die bedryf sal weer groei in die toekoms – iets wat deur politieke onsekerheid belemmer word.
Die gevolge vir grondhervorming is aansienlik. Die hele sektor moet realistiese teikens en planne in plek stel en saamwerk om dit te verwesenlik. ’n Gefragmenteerde, ideologies gedrewe en ongekoördineerde benadering sal misluk. Ontwikkelende boere moet eienaarskap van die grond hê om toegang tot finansiering te kry en uit te brei.