
Die memorandum is tydens ’n
staatsbesoek van pres. Cyril Ramaphosa aan Saoedi-Arabië op 15 Oktober
onderteken. Onderhandelinge vir die memorandum het in 2012 begin.
Die memorandum se gevolgtrekking, saamgestel deur me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en onderskraag deur me. Barbra Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, stel ’n raamwerk voor vir die verbetering van bilaterale aktiwiteite in landbou, vissery en akwakultuur.
Die memorandum bepaal dat daar binne dié drie sektore op produksie, ontwikkeling, die uitbou van kapasiteit, die bevordering van handel en belegging, opleiding, asook die uitruil van kennis gekonsentreer sal word.
Didiza het met mnr. Abdulrahman Al-Fadhli, Saoedi-Arabië se minister van omgewing, water en landbou, gemeenskaplike belange in die landbou bespreek. Hulle het besluit om die memorandum dringend toe te pas. Senior amptenare moet ’n werksgroep stig om ’n plan van aksie binne die raamwerk van die memorandum saam te stel.
Al-Fadhli het bevestig dat Saoedi-Arabië se voedsel-en-medisyne-owerheid (SFDA) Suid-Afrika binne die volgende drie weke sal besoek om plaaslike stelsels vir dieregesondheid en vleisveiligheid te ondersoek met die oog op die uitvoer van rooivleis na Saoedi-Arabië.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.