
Wetenskaplikes aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port Elizabeth meen dat hulle ’n deurbraak gemaak het in die soeke na die kommersiële vervaardiging van biobrandstof uit alge.
Prof. Ben Zeelie, hoof van die span, sê wanneer die alge met laegraadse steenkool vermeng word, dit die struktuur van die steenkool in so ’n mate verander dat hoëgraadse petroleum daaruit onttrek kan word. “Die beplanning is om binne weke ’n gedetailleerde ingenieursontwerp op die tafel te hê en voor die einde vandie jaar ’n tegniese demonstrasieaanleg van een hektaar op te rig.
Teen volgende jaar sal ons weet hoe goed die tegnologie op dié skaal werk. Indien dit suksesvol is, sal die projek gekommersialiseer word.”
Kan in biobrandstof omskakel
Zeelie sê die produk wat vervaardig word, is as Coalgae™ geregistreer. “As ons net die afvalsteenkool wat jaarliks deur dié proses in die land geproduseer word in biobrandstof kan omskakel, sal dit Suid-Afrika in staat stel om bykans die helfte van sy ruolie-invoer self te produseer.”
As die projek suksesvol is, sal dit ook meebring dat Suid-Afrika se koolstofspoor verklein word omdat die alge van koolsuurgas leef. Vir elke kilogram alge wat geproduseer word, word sowat 2 kilogram koolsuurgas verbruik.
“Ons glo ons is die wêreld voor wat die tegnologie betref en dat dit binne die volgende twee jaar ook in die praktyk lewensvatbaar sal wees,” het Zeelie gesê.