Nog niks meer as agt jaar se beplanning is op die tafel in die veelbesproke projek by Cradock in die Oos-Kaap om biobrandstof uit suikerbeet te vervaardig nie.
Op ’n onlangse besoek ter plaatse was die terrein vir die gebou nog nie eens skoongemaak nie, sê mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA.
Die Cradock-projek, van die Regering se Sentrale Energiefonds en die IDC (voorheen bekend as die Nywerheidsontwikkelingskorporasie), word al lank voorgehou as die verste gevorder in die ontwikkeling van ’n Suid-Afrikaanse biobrandstofbedryf, maar geen bouwerk het nog begin nie.
Produksiedatum nog nie beskikbaar
Dit is steeds onduidelik wanneer produksie sal begin. Graan SA het in ’n herbeskouing van sy beleid en planne vir die toekoms besluit dat die vestiging van ’n biobrandstofbedryf steeds een van die voorrangsake op sy sakelys moet bly, het De Villiers op die Nampo-Oesdag gesê.
Hy het egter voorgestel dat wit mielies, koring en selfs geel mielies vir eers as moontlike brandstofbronne uitgesluit word. Hy meen dat solank eerder op die vervaardiging van biobrandstof uit sorghum en sojabone gefokus word.
Lewensvatbare bedryf?
Die Regering se heersende beleid sluit ook mielies as biobrandstofbron uit, uit vrees dat ’n plaaslike etanolbedryf die prys van dié stapelvoedsel vir verbruikers sal laat styg. Dit word allerweë aanvaar dat die Regering eers ’n aankondiging oor die regulering van biobrandstofpryse moet doen voor ’n lewensvatbare plaaslike bedryf gevestig sal kan word.
In Maart is berig dat só ’n aankondiging deur die Departement van Energie binne die volgende jaar verwag kan word. Volgens die Regering se biobrandstof-bedryfstrategie wat in 2007 bekend gestel is, moet biobrandstof teen 2013 altesame 2% van die land se totale brandstofvoorraad verteenwoordig.
1 Junie 2011