
Só het mnr. Francois Knowles, registrateur van die Landbouprodukte-agenteraad (Apac), op die Vrystaatse kongres van die Rooivleisprodusente-organisasie gesê.
Die verlies aan Suid-Afrika se bek-en-klouseervrye-status het die land se toegang tot internasionale verhandeling van sy landbouprodukte grootliks benadeel, het Knowles gesê. Dit behels die uitvoer van lewende hawe en produkte in die geheel.
“Bek-en-klouseer is ’n dieresiekte wat die ekonomie op sy knieë kan dwing. Die wêreld sien ons as ’n onveilige uitvoerbron van dierlike produkte.”
Hy het ’n beroep op produsente gedoen om die regulasies na te volg wat in November 2020 ingestel is om aan die internasionale organisasie vir dieregesondheid se kode te voldoen.
“As dié regulasies behoorlik nagevolg word, sal die deure vir ons lewendehawe-produsente open. Die regulasies sal veral veilingsondernemings help om die risiko van die verspreiding van beheerde, aanmeldbare en ander dieresiektes te verminder.”
Hy het gesê die verbruiker moet weet dat die bedryf se klem op veilige diereprodukte is en produsente moet sorg dra dat hul biosekerheidspraktyke op plaasvlak korrek is.