
Die RPO spreek sy dank teenoor me. Thoko Didza, minister van landbou, grondsake en landelike ontwikkeling, uit omdat sy al die vertoë van belanghebbendes in die waardeketting oor die verbod en die invloed daarvan op die rooivleiswaardeketting in ag geneem het.
Die organisasie het luidens ’n verklaring rooivleisprodusente aangemoedig om sorg te dra dat alle dokumentasie gereed is en dat met die nodige erns en versigtigheid opgetree sal word met die verskuiwing van diere of die inbring van diere na plase. Hy beklemtoon dat biosekerheid op plaasvlak en die landbouprodukte-agentskapsraade (Apec) se biosekerheidsmaatreëls nou van deurslaggewende belang raak en dat selfregulering ’n groot rol moet speel.
Baie versigtig
Die RPO beklemtoon dat die statusverslae deur die departement daarop dui dat die siekte steeds versprei. Daarom moet produsente baie versigtig te werk gaan en die verskuiwing van diere tot die minimum beperk. “Ons wil aan lede die versekering gee dat die RPO, met die samewerking van die nasionale dieregesondheidsforum, hard werk om ’n gebeurlikheidsplan vir die toekoms daar te stel.”
Daar word ten nouste saamgewerk met ’n bedryfsgeoriënteerde tegniese taakspan wat onder meer uit internasionale kundiges en die departement bestaan om ’n medium- en langtermynstrategie te ontwikkel. Daar word onder meer beoog om daadwerklik te sorg dat ’n entstof spesifiek vir Suid-Afrika ontwikkel word en dat vryemarkbeginsels daarvoor sal geld.
Die RPO sê produsente moet in gedagte hou dat bek-en-klouseer ’n staatsbeheerde siekte is wat die verantwoordelikheid van die staat is. Die RPO gee sy volle ondersteuning en samewerking, en glo dat die oplossing in private-openbare vennootskappe lê.
Intussen, hoewel die DA die opheffing van die verbod verwelkom, blameer die party die verspreiding van die siekte op die departement van landbou se laksheid, sê mnr. Noko Masipa, DA-LP. Volgens hom is voldoende kommunikasie en polisiëring noodsaaklik om te verseker dat diere net met die nodige permitte verskuif word.
Steeds kommer oor vinnige verspreiding
Mnr. Roelie van Reenen, uitvoerende hoof van die Beefmaster-groep se voorsieningsketting, sê die hulle is baie gelukkig dat die regering siektebeheergebiede geskep het en dat dit die regering sal help om die verspreiding daarvan te beheer.
Hy voeg egter by dat dit wys sou gewees het indien 'n private veearts se goedkeuring en Rooikruispermit ook uitgereik moes word voor diere verskuif mag word – spesifiek vir die verskuiwing van diere vir ander doeleindes as om geslag te word.
Die nasionale dieregesondheidsforum is dankbaar dat die minister die waardekettings se terugvoer met haar besluit in ag geneem het.
Die forum voeg by dat die inperkingstydperk vrugte afgewerp het deurdat die bedrywe vir wol, huide en velle weer met China kan handel dryf. ’n Beroep word in ’n verklaring op lede en belanghebbendes gedoen om die voorgeskrewe regulasies ten opsigte van dokumentasie met die verskuiwing van vee te eerbiedig.
“Ons is steeds bekommerd oor die vinnige verspreiding van hierdie siekte soos gesien in ’n vorderingsverslag van die direkteur van dieregesondheid op 7 September,” sê mnr. Gerhard Schutte, voorsitter van die forum. “Ons moedig lede en belanghebbendes aan om werk te maak van biosekerheidsgeriewe op hul eiendomme.”
Nuwe vee moet eers in kwarantyn bly voordat hulle by bestaande kuddes toegelaat word en selfregulering gaan nou ’n deurslaggewende rol speel, waarsku die forum. ’n Tegniese groep, wat deur die forum saamgeroep is ter aanvulling van die direktoraat van dieregesondheid se tegniese span, sal op 13 September saamwerk aan ’n konsepstrategie vir die bekamping van die siekte op kort en lang termyn.
“Ons bedank dr. Mpho Maja, nasionale direkteur van dieregesondheid, en die direkteure vir dieregesondheid in al nege provinsies wat saam met ons nege provinsiale dieregesondheidsforums gewerk het en elke bekommernis met die nodige tegniese hulp hanteer het.
“Ons besef dat die pad vorentoe vir bek-en-klouseerbestuur nog baie werk gaan verg, maar weet met sekerheid dat die samewerking deur ons gevestigde platforms net sterker sal word.”
Schutte herinner lede en belanghebbendes daaraan dat bek-en-klouseer ’n staatsbeheerde siekte is en slegs deur die nasionale en provinsiale departemente van landbou se direktorate van dieregesondheid ingevolge die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) bestuur sal word.
“Ons bied ons voortgesette ondersteuning en samewerking aan om die hande van die departamente sterk te maak in die geveg teen die siekte en die verspreiding daarvan.”