
Boere en veeartse het OBP in Februarie in ’n openbare skrywe gekritiseer oor entstoftekorte en die swak bestuur daarvan.
Talle veeartse met wie Landbou.com gepraat het, sê daar is baie meer bosluise as normaalweg vanweë die hoë temperature en baie reën in provinsies soos Noordwes, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng, KwaZulu-Natal en dele van die Oos- en Noord-Kaap.
“Hoewel daar nou baie meer bosluise as normaalweg is, is dit belangrik om te onthou dat hierdie bloed-entstowwe vir bosluisoorgedraagde siektes reg deur die jaar beskikbaar behoort te wees. Dis baie belangrik om jong vee betyds in te ent,” sê dr. Peter Oberem, besturende direkteur van Afrivet.
Op Afrivet se jaarlikse simposium in Augustus vanjaar was daar weer skerp kritiek teenoor OBP oor entstoftekorte. Dit het toe aan die lig gekom dat die Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut (OVI) gereed is om entstowwe te vervaardig, maar dat daar ’n vertraging is omdat OBP nie bestellings vir entstowwe plaas nie.
Met Landbou.com se navrae hieroor aan OBP was daar eers stilswye. Mnr. Luvuyo Mabombo het egter op 28 November in ’n e-pos aan Landbou.com laat weet dat bloedentstof vir bosluisoorgedraagde siektes nou weer beskikbaar is.
Aanvraag en beskikbaarheid
Luvuyo sê die huidige beskikbaarheid van buisies en die agterstand in bestellings is as volg:
- Afrika-rooiwater: Bestellings vir 957 buisies is geplaas en 14 000 buisies is beskikbaar.
- Asiatiese rooiwater: Bestellings vir 1 049 buisies is geplaas en 16 000 buisies is beskikbaar.
- Hartwater: Is al ’n rukkie gelede begin verkoop en daar is tans nog 8 000 buisies beskikbaar.
- Anaplasmose: Bestellings vir 522 buisies is geplaas en 17 000 buisies is beskikbaar.
Daar is ook bloed-entstof vir galsiekte beskikbaar, maar daar is nie duidelikheid oor die hoeveelheid nie.
In ’n verklaring wat vandag vrygestel is, sê OBP hy het begrip vir die kommer oor die beskikbaarheid van noodsaaklike entstowwe aangesien die inentingseisoen om die draai is. Hy is bewus daarvan dat die volgehoue reën oor dele van Suid-Afrika tot uitbrekings van dieresiektes kan lei.
OBP sê die entstof vir Afrika-perdesiekte ondergaan tans gehaltetoetse en dit sal binne die volgende sewe dae beskikbaar wees. Die entstof vir knopvelsiekte is beskikbaar en die entstof vir bloutong sal van 20 Desember beskikbaar wees.
Die entstof teen slenkdalkoors is beskikbaar en daar word nog daarvan vervaardig wat teen einde Januarie volgende jaar beskikbaar sal wees.
“As ’n besigheid volg ons programme vir die onderhoud, herstel, aanpassing en vervanging van toerusting. Dit is noodsaaklik om toekomstige onderbrekings van produksie te voorkom.
“OBP is trots daarop dat die beskikbaarheid van entstowwe sal help om uitbrekings van siektes te voorkom.”
In ’n skrywe wat ook aan Landbou.com gestuur is, moedig OBP boere en veeartse aan om so gou moontlik bestellings te plaas deur 012 522 1684/5/7/8 of deur ’n e-pos na ordersloc@obpvaccines.co.za te stuur.