Eenmansake en boere is in ’n groot verknorsing sedert art. 9HA en art. 25 op 1 Maart 2016 in werking getree het, want boedelkoste het drasties verhoog. By afsterwe word inkomstebelasting gehef op voorraad en werktuie. Voorheen is kapitaalwinsbelasting (KWB) by dood gehef op alle bates teen sowat 16,4% op die groei, tussen basiskoste en markwaarde.
Art. 9HA het paragraaf 40 van die Agtste Bylaag van die Inkomstebelastingwet vervang en het te doen met die betaling van KWB en inkomstebelasting (tot 45%) in die laaste belastingopgawe van die oorledene, wat ’n eenmansaakboer of sake-eienaar is. Art. 9HA bepaal dat ’n oorledene al sy bates aan sy boedel beskik/verkoop as hy/sy sterf. Daarop word KWB betaal en op sekere dinge ook inkomstebelasting.
Art. 25 van die Inkomstebelastingwet is gewysig sodat bestorwe boedels tydens die beredderingsproses, tot by die likwidasie- en distribusierekening, geregistreer word as inkomstebelastingbetalers. Alle opbrengste en inkomste word in dié opgawe belas en nie in die oorledene se laaste opgawe nie, al behoort dit aan die oorledene en al moes hy dit reeds ontvang het voor afsterwe.