n Boer van die Vrede-distrik in die Vrystaat is aangekla van poging tot moord na ‘n skietvoorval tydens ‘n nagpatrollie oor die naweek voorgekom het, sê die Polisie.
Luidens ‘n berig in Beeld (7 September) het die 52 jarige mnr. Hertzog Botha en nog boere in drie ander bakkies die Frankfort-distrik gepatrolleer.
Lt.kol. Thandi Mbambo sê die groep het glo ‘n taxi van die dorp opgemerk wat verby hulle ry.
Hulle het die taxi tevergeefs probeer keer en dit toe agtervolg. Volgens Mbambo was die persone in die taxi glo oppad na ‘n nagwaak op die plaas Saaihoek.
Stryery en toe ‘n skietery
Die groep boere het na bewering die passasiers van die taxi genader en ‘n stryery het ontstaan.
‘n Skietery het gevolg en twee manlike passasiers is gewond. Volgens die berig het die boere van die toneel weggejaag, maar iemand wat die nagwaak bygewoon het, het hulle agterna gesit en die Polisie ontbied.
Hertzog is Maandag (6 September) op borgtog van R10 000 in die Vrede-landdroshof vrygelaat, en moet op 20 September weer in die hof verskyn.
7 September 2010