
Mnr. Nigel Pres Blaker, eienaar van die plase South Downs en Deel 1 Winchester in die Escourt-omgewing, het luidens ’n verklaring deur die departement sy waterlisensie oortree toe hy ’n onwettige dam op sy plaas gebou het. Blaker het volgens die departement nie die nodige magtiging vir die watergebruik gehad nie.
Die departement sê sy optrede teen die boer wys dat hy voortgaan om ’n fermer greep op onwettige watergebruik te kry.
Amptenare het luidens die verklaring in 2018, tydens ’n inspeksie om nakoming te monitor, van die onwettige bedrywighede op die boer se grond bewus geword. Die departement het ’n kennisgewing uitgereik dat hy voornemens was om ’n direktief kragtens artikel 53(1) (a) van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) uit te reik. In die direktief wat later uitgereik is, is Blaker opdrag gegee om die onwettige watergebruik te staak en die dam te sloop.
Die departement sê nadat hy alle weë uitgeput het, het hy ’n klag teen die boer by die polisie in Estcourt aanhangig gemaak.
Me. Thandi Mopai, direkteur vir nakoming, monitering en afdwinging, sê die departement het op 19 Januarie vanjaar ’n bemiddelingsooreenkoms met Blaker gesluit waarvolgens hy R1,5 miljoen as administrasiegeld betaal het vir die bou van ’n onwettige dam vir water vir sy boerdery.
Die twee partye het verder deur die bemiddeling ooreengekom dat Blaker binne 60 dae sal aansoek doen om watergebruiksmagtiging vir die onwettige dam. Die aansoek sal aan die normale prosesse onderhewig wees.
Die departement sê sy optrede teen die boer is deel van sy deurlopende taak om as reguleerder van die water-en-sanitasiesektor alle ongemagtigde en onwettige gebruik van waterhulpbronne uit te roei.