
'n Boer van Swartwater in Limpopo het in die landdroshof op Lephalale verskyn nadat hy die vorige naweek in hegtenis geneem is vir die onwettige verbouing van dagga.
Die boer (54), wat nog nie gevra is om te pleit nie, het glo 2 300 goed versorgde daggaplantjies in tonnels op sy plaas gehad.
Lt.kol. Moatse Ngoepe van die polisie in dié provinsie sê dit is moontlik dat die boer die plantjies vir olieproduksie verbou, maar dit is te vroeg in die ondersoek om met sekerheid te sê. Indien wel, sal die hof moet besluit oor die boer se lot.
Veldtog teen dwelms
Ngoepe sê die inhegtenisneming is deel van ’n interprovinsiale polisieveldtog teen dwelmhandel en -misbruik wat op Vrydag 24 Maart in Limpopo begin het. Die polisie het glo ondersoek op die plaas ingestel nadat inligting ontvang is dat die man dagga in sy tonnels kweek.
“Ons het hom kort ná sy inhegtenisneming vrygelaat met ’n waarskuwing om Maandag in die hof te verskyn,” sê Ngoepe.
“Hy is nie meer ’n kind nie en dit sou hom onnodig verneder het as ons hom in die selle aangehou het.”
Die waarde van die daggaplantjies waarop beslag gelê is, word op R350 000 beraam. Daar is ook talle ander mense in Limpopo en Mpumalanga in hegtenis geneem tydens die teen-dwelmveldtog.