
Dít was deel van mnr Sean Walsh, uitvoerende hoof van Kaap Agri, se vraag aan boere tydens die Langkloof Bloeiselfees wat ten bate van Hoërskool McLachan op Joubertina aangebied is.
“As jou antwoord nee is, wat het jy gewen?”
Hy het die voorbeeld genoem van die gemeenskap van Pongola wat in 2021 tydens die KwaZulu-Natal onluste saamgestaan het sodat die dorp nie geplunder word, “van die taxi- tot die plaaseienaars het saamgestaan en gesê dit gaan nie in ons area gebeur nie.
“Boere, hoor my lied, as ons oor 10 of 20 jaar nog wil bestaan, moet julle saam met die gemeenskap wen, dit moet inklusief wees.”
Boere se plig in die gemeenskap is om eerder by te dra as om te wen, want indien die mikpunt is om te wen, moet daar ’n wedstryd met reëls en ’n einde wees, “en boerdery het nie ’n einde nie.
“Julle produseer elke dag kos, dra by tot die ekonomie van die land, die uniekheid van Suid-Afrika in ’n area wat nie eintlik water het nie.’
Hy het emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu aangehaal wat gesê het dat jy nie jou stem tydens ’n argument moet verhef nie, maar jou argument moet verbeter.
Hy sê boere produseer kos, wyn en vesel, waarsonder mense nie kan lewe nie, maar tog verloor boere aanhoudend die argument teen die regering en die gemeenskap.
Volgens Walsh moet boere eerder hul argument verander.
“Jou argument moet wees om saam met die gemeenskap te verbeter, ons sal oneindig kan bydra as ons die gemeenskap inklusief saamneem.”
Regering moet oortuig word
Daar waar ’n gemeenskap die landbou waardeer, sal daar ’n maatskaplike verdrag wees om boere te beskerm. Die regering sal ook oortuig moet word om boere die nodige erkenning te gee vir wat hulle doen.
Volgens Walsh toon studies dat mense meer emosie ervaar wanneer hulle iets verloor teenoor as wanneer hulle iets het om te wen. “Wanneer jy iets het om te verloor, is jy meer gemotiveerd om oor te gaan na aksie.”
Hy glo dat die Suid-Afrikaanse landbou iets het om te verloor. Die landbou moet egter ’n regmatige beweegrede hê vir volhoubaarheid omdat dit tydloos is.
“Jou nageslag sal die vrugte pluk. Dit is iets inklusiefs tot voordeel van ander in die gemeenskap, en dit moet politieke, tegnologiese en kulturele veranderings kan weerstaan.”
Boere kry waarskynlik net 50 kanse om ’n sukses van die boerdery te maak, en boere moet elke dag opdaag om te wen.
Hy het gewaarsku dat boere nie moet verwag dat die regering die reëls mooi sal maak vir die landbou nie.
“Die reëls is so onduidelik. Hoe wen jy iets as die reëls nie duidelik is nie? Jou klem moet wees daarop om die reëls duidelik te kry.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.