’n Boer van Underberg in KwaZulu-Natal wat hondsdolheid onder lede het, is steeds in ’n koma en veg om sy lewe terwyl hy deurgaans gemonitor word, sê dr. Grant Lindsay.
Lindsay, wat mnr. Graeme Anderson behandel, sê Anderson sal teen einde vandeesweek reeds drie weke lank in die versorgingseenheid van die Pietermaritzburg-Mediclinic behandel word.
Volgens Lindsay word Anderson se verdowing stelselmatig verlig, terwyl sy vordering gemonitor word. Anderson se redding was die Milwaukee-protokol waarvolgens hy van die begin af behandel is. Dít bepaal dat ’n patiënt in ’n geïduseerde koma geplaas word sodat sy of haar liggaam die virus kan beveg.
Lindsay sê namate die verdowing stelselmatig verminder word, neem die risiko’s vir Anderson se lewe af.
Uitbreking
Me. Sandy la Marque, hoof uitvoerende beampte van Kwanalu, sê hulle is daarvan bewus dat hondsdolheid tans in sommige dele van die provinsie voorkom.
Sy sê deur middel van die provinsiale Dieregesondheidsforum skakel hulle gereeld met die betrokke owerhede om op die hoogte van die jongste verwikkelinge te bly.
“Ons maak ook inligting oor die siekte en die hantering van moontlik besmette diere aan boere bekend sodat hulle hulself en hul werkers teen die siekte kan probeer beskerm,” aldus La Marque.
Anderson het volgens Lindsay die siekte opgedoen deurdat ’n rondloperhond wat hy opgetel het, aan hom gelek het. Hy wou die hond plaas toe neem om vir ’n vriend te gee.
22 Mei 2012