
Die skaapboer van Edenville in die Vrystaat wat sowat 300 skape in ’n frats-haelstorm verloor het, is oorweldig deur al die welwillendheid en hulp van mense wat sy familie wil bystaan ná hul verlies.
“Met alles wat tans in Suid-Afrika en die wêreld aangaan, vergeet mens soms hoe goed mense eintlik kan wees. Ek het gister en vandag besef hoe wonderlik mense kan wees en hoe graag almal wil help,” sê mnr. Heyns Theron van Edenville.
Hy en sy broer, mnr. Danie Theron jr., het Maandag nagenoeg 300 van hul skaaplammers wat saam geloop het, in ’n haelstorm op hul pa, mnr. Danie Theron sr., se plaas verloor. Nagenoeg 100 mm reën met hael het binne 15 minute geval. Die lammers is onlangs geskeer en het verkluim weens die hoë volume hael. Die groot volume water het ook aansienlike skade aan huise en skure veroorsaak. Hulle weet ook nie of die wolskeersel, wat in ’n skuur was wat oorstroom het, nog verkoop sal kan word nie.
Die voer vir hul skape het ook tydens die reënstorm nat geword. Sover bekend het ander veeboere in die omgewing nie soortgelyke skade gely nie.
Volgens Heyns het die hael sy veld stomp geslaan, “sodat dit lyk asof daar 1 000 skape in die veld geloop het”.
“Maar, daar het darem baie reën aan die begin van die groeiseisoen geval, en dan sal jy ná drie weke nie die Vrystaat ken nie. Ons het skade in die veld gehad, maar dit is nie te ernstig nie.”
Hy sê hoewel die wind tans waai en dit bewolk en nat is, het hulle nie van hul oorblywende skape verloor nie.
Volgens Theron kry hy reaksie van mense landwyd sedert sy storie in die media verskyn is. Daar is selfs navrae uit Brittanje ontvang.
Hy het tot dusver finansiële hulp vir lek gekry en mense uit die omgewing het vir hom mielies gebring. Hy ontvang ook verskeie oproepe van mense wat sê hulle bid vir hom en dat hulle hom voorspoed toewens.
“Mense wat my nie ken nie, bel my, en mense van wie ek nog nooit gehoor het nie, bel my.”
Heyns benadruk dat hy baie dankbaar is teenoor almal wat tot dusver na hom uitgereik het.
Die Edenville-distriksboerevereniging het aangedui dat enigeen wat Theron wil bystaan, die vereniging kan kontak of ’n donasie aan hom in die boerevereniging se rekening kan inbetaal. Die besonderhede is:
Standard Bank
Besigheidstjekrekening
Rek.nr.: 04 037 667 2
Edenville Distriks Boere Unie'n Back a Buddy-profiel is ook geskep vir diegene wat Theron wil ondersteun. Klik hier om die profiel te besigtig.