
Mnr. Kobus Steenkamp (68) het verlede Donderdag omstreeks 21:00 in swaar weer veld toe gegaan om hekke toe te maak en sy skape bymekaar te maak, sê kapt. Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Sy vrou, Elsa, het bekommerd geraak omdat hy lank weggebly het. Sy het bure gebel om te kom help om hom op te spoor. Hulle het hom ná ’n lang soektog bewusteloos in die veld aangetref.
Volgens mnr. André Janse van Rensburg, streekverteenwoordiger van Vrystaat Landbou in Bultfontein en veiligheidskoördineerder van die Letshwelephutswa-distriksmunisipaliteit, was hy by die skool se prysuitdeling toe hy die oproep van die kommunikasie-koördineerder, me. Rika Swanepoel, ontvang het dat dringend ’n ambulans vir Steenkamp benodig word. “Toe praat ek met die dokter wat ook by die prysuitdeling was en sy het dadelik ’n helikopter gereël. Ons het vir hulle die liggings gestuur, maar die weer was baie swaar. In ’n stadium het die vliënier gesê dit sal nie moontlik wees om te vlieg in dié omstandighede nie.”
Steenkamp is toe deur die hulpverleners op die toneel hospitaal toe geneem en op pad deur paramedici ontmoet, maar hy is oorlede voordat die hospitaal bereik kon word.
Daar word vermoed dat hy deur weerlig in die veld getref is. Volgens die polisieverklaring moet die nadoodse ondersoek nog verrig word.
Janse van Rensburg vertel dat Steenkamp baie bekend was in die distrik en ook vir jare in die distrikslandbou-unie gedien het, onder meer as voorsitter in 2016. Hy was ’n melkboer, maar het ook met skape geboer.
“Hy was ’n baie aangename mens wat altyd ’n glimlag op sy gesig gehad het en nooit ’n slegte woord van iemand gesê het nie. Daarby was hy een van daardie boere wat altyd sy hand na sy medemens uitgesteek het. Niks was ooit vir hom te veel moeite nie. Ons gaan hom verskriklik mis.”
Steenkamp word oorleef deur sy vrou, Elsa, en drie kinders, Wilco, Johan en Annemie. Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.