
’n Voormalige Oos-Kaapse Boer van die Jaar, mnr. Arthur Rudman (66), en sy vrou, Trinette, het ’n noue ontkoming gehad toe hulle in ’n plaasaanval deur vyf rowers oorval en beroof is.
Rudman is ’n bekende in internasionale jagkringe en boer op die plaas Blaauwkranz by Uitenhage. Hy is in die bobeen gewond en sterk in die Nedcare Cuyler-hospitaal op Uitenhage aan.
Die koeël wat sy hoofslagaar rakelings gemis het, sit nog in sy lies. Volgens hul seun, Francois, is sy ouers oorval nadat hulle Saterdag omstreeks 21:15 tuisgekom het.
"My ma het die huis binnegegaan om dit oop te sluit. Die gewapende rowers het my pa gekonfronteer toe hy die motor gaan bêre. Toe hy gil om my ma te waarsku, het een van die rowers hom in die bobeen gewond en met die kolf oor die kop geslaan.
"My ma het vermoed my pa kry ’n hartaanval en het uit die huis gestorm. Die rowers het haar aan die hare gegryp en die huis ingedwing. Hulle het daarop aangedring dat sy die kluis oopsluit en het met ou wapens, juwele en geld ontvlug."
Mev. Rudman het haarself in een van die kamers toegesluit en haar seun en die polisie gebel. Hoewel geen verdagtes nog aangekeer is nie, het Rudman jr. die polisie geloof vir hulle vinnige reaksie.
"Omdat ons lankal ’n aanval verwag het, was my ouers goed voorberei. Die feit dat hulle koelkop gebly het, het waarskynlik hul lewe gered."
’n Beloning van R20 000 is uitgeloof vir inligting wat tot die rowers se inhegtenisneming sal lei.
14 November 2011