
Die Allesbeste Boerdery van dr. André Ernst, Liezel, Edrean en Zander Ernst, is as die nasionale Boer van die Jaar aangewys, Eric Ntlaba is as die beste nuwe toetreder tot die kommersiële landbou bekroon, en dr. Theo de Jager is die Landboukundige van die Jaar.
Die geleentheid is deur Absa, Monsanto en Santam Landbou geborg. Landbouskrywers SA bied die Boer van die Jaar-kompetisie vir kommersiële boere, nuwe toetreders tot die kommersiële landbou en landboukundiges sedert 1977 aan.
“Vanjaar se kandidate in die drie kategorieë is elk op hul eie terrein besonderse presteerders en dit was nie maklik om wenners aan te wys nie. Ons is trots op al die kandidate wat in die provinsies aangewys is as wenners. Ons wil diegene wat die toekennings as nasionale boer, nuwe toetreder tot die kommersiële landbou en landboukundige ontvang het, baie gelukwens. Ons beskou dit as ‘n pluimpie vir Suid-Afrikaanse landbou en meen dat die kandidate enige tyd op die wêreldmark met die bestes kan meeding,” aldus Magda du Toit, voorsitter van Landbouskrywers SA.
Nuwe toetreder tot die kommersiële landbou:
As 'n varkboer in die Lindley-gebied ken mnr. Eric Ntlaba die betekenis van deursettingsvermoë en harde werk. Ná voltooiing van 'n diploma in algemene bestuur en graad in sake-administrasie, het hy by verskeie hotelgroepe in Bloemfontein en Gauteng gewerk. Dit was terwyl hy bestuurder was by 'n hotel in Polokwane dat hy besef het hy wil sy droom vervul om te boer. Hy het in 2008 na Lindley verhuis en begin boer. Deesdae het hy 'n vooruitstrewende boerdery van 2 300 varke.
Landboukundige van die Jaar:Dr. Theo de Jager is bekend vir sy betrokkenheid in die landbou op die vasteland van Afrika, waar hy die modernisering, kommersialisering en meganisasie van die landbou bevorder. Hy is 'n suksesvolle kommersiële boer, en as 'n voormalige adjunkvoorsitter van Agri SA, was hy verantwoordelik vir grondhervorming, transformasie, boerontwikkeling en Afrika-skakeling. Hy is voorsitter van die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies, asook die Pan African Farmers Organisation. Hy is 'n stigterslid en voorsitter van Agri All Africa, 'n oplossing-gebaseerde landboumaatskappy wat kleinskaalse boere bemagtig tot kommersiële status op die vasteland.
Boer van die Jaar: Allesbeste Boerdery van dr. André Ernst, Liezel, Edrean en Zander Ernst.
Allesbeste Boerdery is bekend vir sy baanbrekerswerk in die avokadobedryf en die Allesbeste Avokado-kwekery is een van die voorste avokado-kwekerye in die wêreld. Dit produseer 200 000 avokadobome per jaar en lewer dié bome reg oor die wêreld. Hulle lewer gehalteprodukte deur middel van uitsonderlike produksiemetodes. Hul hoofstroom besigheid is avokado’s, maar piesangs, bloekombome en lietsjies, ondersteun die avokado besigheid. Die familie besit 20% aandele in Afrupro, 'n uitvoermaatskappy, sowel as die meerderheid aandele in die Letaba-pakhuis. Hulle het die eerste eg Suid-Afrikaanse avokadokultivar, die Maluma-avokado, ontwikkel en die planttelersregte vir die kultivar in 2004 geregistreer.
Al die kandidate was: Nuwe toetreder tot kommersiële landbou:
Noordelike streek - Simon Teffo
Wes-Kaap (suidelike) streek – Phirdy Motala.
Landboukundige van die Jaar:Oos-Kaap – Dr. Gerhard Verdoorn
Vrystaat – Dr. Mias van der Westhuizen
Gauteng – Jannie de Villiers
Limpopo – Dr. Theo de Jager
Mpumalanga – Barry Christie
Noord-Kaap – Hannes Hattingh
Noordwes – Prof. Flippie Cloete
Wes-Kaap – Andre Roux.
Boer van die Jaar:Vrystaat – Nick Serfontein
Gauteng – Rina en Norman Belcher
Limpopo – Allesbeste BoerderyNoord-Kaap – Vickie Bruwer
Noord-Wes – Jerry Basson
Wes-Kaap – Josias le Roux.
Byskrif: Van links is me. Magda du Toit (Landbouskrywers SA) dr. André Ernst, me. Liezel Ernst, mnre. Edrean Ernst, Zander Ernst en Gerhard Diedericks, hoof van Santam Landbou. Foto: Helenus Kruger.