
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om nie mnr. Pieter Swart (37), wat drie verdagtes tydens ’n plaasaanval verlede jaar doodgeskiet het, te vervolg nie aangesien daar volgens dié gesag geen vooruitsig vir ’n suksesvolle vervolging is nie.
Swart is in Februarie verlede jaar deur vier verdagtes buite sy plaashuis oorval. Hy het drie van hulle doodgeskiet.
Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het voorheen aan Landbou.com gesê dat Swart in hegtenis geneem is omdat sy weergawe van wat tydens die voorval gebeur het, nie ooreenstem met die bewyse wat die polisie se ondersoekspan op die toneel gevind het nie.
Mnr. Phaladi Shuping, NVG-woordvoerder, sê egter al die bewyse dui daarop dat hy in selfverdediging opgetree het en daarom is besluit om hom nie te vervolg nie.