
Die sluiting van die Namibiese grens vir die invoer van lewende hawe na Suid-Afrika het ’n gunstige uitwerking op die plaaslike prys wat vir Boerbokke betaal word, sê mnr. Kobus Lötter, ondervoorsitter van SA Boerboktelersgenootskap.
Lötter sê die prys op die hoef het van gemiddeld R23 per kilogram voor die winter reeds tot so hoog as R30 per kilogram gestyg. Dit ewenaar die hoogste prys van ’n paar jaar gelede. Hy beklemtoon dat diegene wat dié pryse kry, boere is wat ná aan die tradisionele mark is. Hoe swaarder die bok, hoe laer is die prys.
Met die uitsondering van boere in die omgewing van Pretoria wat aan die supermarkgroep Checkers boerbokvleis lewer, word die meerderheid diere op die hoef verhandel.
Lötter sê die groot aantal produksieveilings wat soos paddastoele opskiet, het ’n neerdrukkende uitwerking op die nasionale veiling van die genootskap. “Daar is deesdae manne wat nie eers as ramtelers geregistreer is nie wat veilings op plase aanbied.” Hy verwag dat pryse op die Quatro-veiling wat in die eerste week van Oktober op Willowmore gehou word, op dieselfde vlak as ’n jaar gelede sal wees toe bokke teen gemiddeld R6 000 van die hand gesit het. “Op sommige produksieveilings word tot R10 000 vir ramme betaal. Kommersiële boerbokooie behaal gemiddeld R2 500 en stoetooie sowat R1 000 meer.” Lötter sê die goeie siklus waarin die Angrobedryf hom bevind, het meegebring dat van die Boerbokboere na Angoras oorskakel. “Weens die toename in probleemdiere is daar deesdae weinig boere wat kan bekostig om net ekstensief met Boerbokke te boer en hulle in die veld laat lam. Wat ons maar álmal doen, is om die ooie na lamkampies en lusernlandjies by die huis te bring.” * Kontakbesonderhede: Kobus Lötter 082 781 2426082 781 2426.