“Alles begin by die landbou – waar ons kos vandaan kom,” skryf die Amerikaanse kruidenierveteraan vir die saketydskrif Forbes onder die opskrif Trend #3. Die eerste twee temas bo-aan die lys het te doen met bewustheid en verbruikers se behoefte om hul kos te kan voel (mindfulness en tactile).
Oor boerdery skryf Phil: “Daar is ’n meer regstreekse verbintenis van plaas tot verbruiker namate gemeenskappe ál nader aan die natuur probeer beweeg. Al hoe meer verbruikers neig na ’n dieet met meer plantprodukte.
“ ’n Nuwe geslag jong boere kom deesdae op die lande. Die Amerikaanse departement van landbou se jongste landbousensus wys dat die aantal boere jonger as 35 aan die toeneem is. Dit is net die tweede keer sedert 1900 wat dít gebeur. Van hierdie nuwe boere het 69% universiteitsgrade, baie meer as die 40% van die algemene bevolking wat ’n universiteitskwalifikasie het.