
Waar die totale plaasskuld verlede jaar op R140 miljard gestaan het, word dit nou op R160 miljard geskat, sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz.
“Dis betekenisvol,” het hy tydens die tweede na-oes innovasie-simposium op Stellenbosch gesê.
Meer as ’n R100 miljard van dié geld is deur kommersiële banke aan boere uitgeleen. Die Land Bank het sowat R40 miljard uitgeleen. Grond verskaf die sekuriteit vir die meeste van hierdie skuld.
Grondpryse is so belangrik
“Dis waarom grondpryse so belangrik is, want dit moet die stelsel onderhou en verseker dat ons die finansiering kry wat ons nodig het om te produseer. As die stelsel misluk, sal ons ’n groot ineenstorting sien. Die banke sal moontlik sink as hulle daardie tipe skuld moet absorbeer.”
Volgens Purchase belê boere nie noodwendig hul winste weer in die landbou nie. “Winsgewendheid neem toe en so ook skuld. Die bruto kapitaalvorming is redelik stadig en as ons na die verhouding tussen netto boerdery-inkomste en skuld kyk, sien ons dat dit eintlik afneem. Ons het meer beleggings terug in die landbou en hoë-waarde produksie nodig.”
'Bemoedigend'
Dis wel bemoedigend dat hoë-waarde gewasse, soos sitrus, in die Wes-Kaap geplant word en heelwat nuwe appelboorde nou in produksie kom. Nie net dui dit op ’n mate van investering in die landbou nie, maar dit sal ook groei in die bedryf aanwakker.
Volgens Purchase is hulle op soek na die maklikste geleenthede om groei in die landbou te genereer.
“Ons stimuleer produksie om agri-verwerking aan te moedig, en dis belangrik, maar ’n studie toon dat die uitvoer van hoë waarde landbouproduksie eintlik groei dryf.”